Ek het grootgeword in ‘n huis waarin plus minus almal musikaal is! Ek het self al my klavier eksamens klaargemaak (met lof) en is ‘n musiekliefhebber van klassieke musiek, ook.
Ongelukkig kan hierdie regterhand nie meer so goed klavier of kitaar speel (soos wat dit op die rekenaar kan tik nie), maar my musiek agtergrond (plus die feit dat ek nog mooi kan hoor) was net genoeg om my te motiveer om ook oor die voordele van rustige klassieke musiek op ‘n mens se gesondheid te skryf!
Hier is die voordele van rustige klassieke musiek, soos Mozart se Sonates en Concertos:
Verminder spanning en depressie
As jy angstig, hartseer of nie in beheer van dinge voel nie, stop, en neem ‘n paar minute om na rustige klassieke musiek te luister. Dit het dieselfde fisiologiese effek op jou as wat ‘n massering het! Deur hierdie tipe musiek by jou daaglikse take te voeg, sal dit jou gedagtes tot bedaring bring, jou liggaam ontspan en jou gees kalmeer.
Verbeter jou buie
Vermy dit om na harde musiek of ritmes te luister as jou emosies in chaos is, omdat dit ‘n slegte situasie emosioneel net kan vererger! Wil jy uit die slegte bui kom waarin jy is? Deur te luister na rustige klassieke musiek (selfs net as agtergrondmusiek), sal jou bui verbeter. Dit help ook wanneer niks anders in staat is om jou gemoedstoestand te verander nie.
Verlig slaaploosheid en laat jou beter slaap
Draai jy om en om vir ure voor jy uiteindelik aan die slaap val, of slaap jy onrustig? Los die slaappille en luister na rustige klassieke musiek. Dit verbeter jou slaap kwaliteit, omdat dit jou ligaam fisies ontspan terwyl dit jou gedagtes kalmeer. Studente vaar ook beter met hul studies as hulle 45 minute tyd inruim vir klassieke musiek voor bedtyd.
Verlig pyn
Melodieuse musiek in ‘n gereelde dosis help met pyn vir diegene wat van operasie herstel, met ‘n gebrek sukkel, of geaffekteer word deur die agteruitgang van ouderdom. Pasiënte hoef ook minder pyn medikasie te gebruik en dit genees beskadigde weefsel vinniger. Musiek kan selfs chroniese pyn verlig. Reik dus uit na Beethoven tesame met jou pynstillers!
Versterk jou geheue
Het jy geweet dat deur te luister na klassieke musiek jou leervermoë, en jou geheue kan verbeter? So volgende keer wat jy ‘n groot praatjie of aanbieding moet memoriseer, sit ‘n bietjie Mozart op terwyl jy oefen. Studente vaar baie beter in toetse wanneer hulle na klassieke musiek luister. Dit is bekend as die Mozart effek. Hulle neem minder en minder tyd om toetse klaar te maak, kry meer antwoorde reg oor die algemeen, en verbeter algaande hul IQ. Het jy ‘n groot toets of projek wat voorlê? Versterk jou breinkrag deur na ‘n bietjie klassieke musiek te luister.
Verminder bloeddruk
Klassieke musiek kan ‘n mens se bloeddruk verlaag, terwyl ander style van musiek, insluitende rap, pop, techno en klassiek, dit verhoog.
Verbeter produktiwiteit
Dit is Maandag oggend en jy “kom net nie by nie”. Om produktiwiteit te verbeter, luister na ‘n bietjie Barok musiek – selfs al is dit net agtergrondmusiek. Musiek maak herhaalde take meer genotvol.
Verhoog kreatiwiteit
Om jou kreatiwiteit te laat vloei, luister na klassieke musiek op die agtergrond. Dit sal jou help om in ‘n meer kreatiewe stemming te kom. Die volgende keer wat jy moet brainstorm oor iets, probeer na Mozart of Bach musiek luister om jou kop skoon te kry sodat jy “out of the box” kan dink.
Probeer dit!
Net 20 minute van Mozart het merkbare emosionele, verstandelike, en selfs ligaamlike veranderinge en brein-voordele. Maar onthou dat daar ‘n klomp klassieke musiek, soos Shostakowich en Alan Berg is wat jou allesbehalwe rustig en kalm laat voel (selfs nie alle Mozart nie!). Daarom moet jy jou musiek goed kies. As jy jou eie “musiekterapie”roetine instel wat jy gereeld gebruik..hoeveel gesonder sal jy nie wees nie!
voelgoed.co.za blog
Baie dankie Leja! 😁
LikeLike