Dis nou 5 jaar..


548865_267126903396134_1743500186_n

“Jy moet ophou skryf oor jou fisiese pyn en liewer iets daaraan doen.”

Die onkundige woorde sny diep. Tog hou ek aan skryf – grotendeels my terapie, anders het ek seker mal geraak van frustrasie en woede oor die onbegrip van ander. (In die proses word ek vryskut kopieskrywer en geleenhede kom soos wonderwerke sonder dat ek daarna hoef te soek.)

Vandag is dit vyf jaar gelede wat my lewe onderstebo gekeer is en handomkeer (vir altyd) verander het, na ‘n spinale koord besering. Ek het ‘n C6C7 besering opgedoen, my nek gebreek op die N1 digby Kaapstad. Nadat ek vir drie maande verlam was, was ek dankbaar dat ek kon loop. Dit was geheel en al ‘n wonderwerk, sê die dokters. Dit is nie medies moontlik dat ek weer sou kon loop, of my arms en bene kon gebruik nie. Ek het gesmeek dat ek nie nou al sou doodgaan nie. En na ‘n nabydoodse ervaring in die hospitaal, is my gebed beantwoord.

Tog het die afgelope vyf jaar gevoel soos ‘n vyf jaar in ‘n tronk…van obsessiewe selfbejammering, gevoelens van hulpeloosheid, angs, eensaamheid, verwardheid, vrees, en woede. Ook die frustrasie, die alewige besluite rondom my daaglikse beplanning (omdat ek net soveel per dag kan doen), en die beeld wat ek probeer voorhou dat ek cope

Wanneer ek loop, voel dit steeds asof ek op eiers loop – my voete voel leweloos, die spiere swak. Die ongemak en konsentrasie om elke tree so te trap dat ek net nie val nie!.. (Hoeveel tree was dit nie in vyf jaar nie?) My regterhand is steeds half-verlam, die motoriese bewegings en greep swak, ek gefrustreerd as ek iets nie kan vasvat of kan oopdraai..die plein onhandigheid!

Het dit  enigsins makliker geraak om saam met hierdie besering te leef?

Het ek gewoond geraak daaraan?

Kortom, NEE.

Ek is jammer as dit nie is wat mense wil hoor nie maar dis die waarheid.

Ek het eendag gekreun: “ek dink nie ‘n GEWONE MENS sou hierdie pyn kon verduur nie..”

Daar’s nog baie pyn in my rug en hande, waarvoor ek steeds ‘n klomp medisyne neem. Die pyn in my middelrug het vererger en verg eintlik mediese ingryping (hoewel ‘n mens moedeloos raak omdat mediese kennis rondom die behandeling van spinale koord beserings so beperk is).

Dis ‘n eensame pad. So dikwels distansieer jy jouself..’n mens wil net tot op ‘n punt met ander meng wat nie verstaan nie. Ek voel “walking quads” (soos hulle ons noem) word afgeskeep en min oor geskryf, of selfs nie eens van geweet nie.

Dis ‘n lang klim na ‘n nuwe normaal. Nie net die liggaam nie, maar ook die siel en gees is belangrik in herstel. Al loop, ry en oefen ek al, het ek dit nog nie heeltemaal aanvaar nie. Daar is mense wat so positief is, en dit inspireer my, maar ek moet erken, dit maak my ook soms jaloers.

Verseker die moeilikste om te aanvaar is die styfheid en gevoel van veroudering – nie geleidelik nie, maar oornag! (Soos Matthys Roets gesê het – met veroudering moet jy aanpas by ‘n veranderde liggaam – hy moes net vinniger daarby aanpas). Mense dink hierdie Annien NOU, is maar hoe ek normaalweg sou lyk as ek verouder maar ek weet dis nie so nie. In die eerste plek sou ek nie oornag soveel gewig opgetel het nie en meer regop loop, dikwels spring in die lug, hardloop of selfs bollemakiesie slaan!..

Ek probeer om hierdie aanpassings te beveg deur soggens yoga, pilates en callinetics te beoefen (en is bevoorreg om naby sulke geleenthede te wees..)  Mediese behandelings is duur en die gym het my terapieplek geraak, waar ‘n mens ook kan oefen op die treadmill (die beste manier om te leer loop), water aerobieseoefening doen, fietsry en gewigte optel (die beste vir spier versterking).

Sekere dae is die oefening baie pynlik vir my, soveel so dat ek die bloed uit my gesig voel tap, en dat die instruktriese al ‘n keer voor my kom buk het met die woorde, “you must take it easy.. remember, you have come a Loong way..you’ve travelled very very far..” Mettertyd, na sowat drie maande, het ek begin voel dat ek weer beheer oor my lyf begin neem soos vorige jare wat ek geoefen het –  tydelik oor die styfheid, en selfs oor die pyn. Hoewel die ouer vroue (sommige selfs so oud as 80 jaar) steeds beter as ek in die klas vaar, het hulle my soveel opgebeur en weer “normaal” laat voel deur vir my te vertel hoe hulle ook oefen om vorige siektes te beveg soos kanker, of om te versterk na vorige operasies (hoewel my besering seker ‘n rapsie erger is as hulle s’n)..

Ongelukkig, elke keer wat ek dink ek kan die pille nou maar weggooi, word ek weer daaraan herinner dat ek nie daarsonder kan funksioneer nie.. 25% van die 50% gevalle wat neuropatiese pyn het na so ‘n besering, het dit lewenslank. Ek neem ‘n pil wat morfien bevat, spierveslappers en senuweepynpille, wat volgens navorsing die beste in kombinasie werk.

Hoewel die kwaliteit van my lewe soveel verswak het, en my lewe drasties verander het, kan die meeste mense nie optel dat daar ENIGE iets met my skeel nie – .

Ek het die mooiste van mense gesien in hulle ondersteuning, maar ook die slegste. Die ongeduld..die veroordeling omdat hulle nie weet nie..die kanse wat hulle met my vat en die klem op my swak punte/swakheid.. Ek het geleer dat ek moet VERGEWE.

Ek herinner myself deurentyd om nie om te gee wat ander dink nie, omdat ek my beste vir Hom moet doen, en nie vir ander nie.

Die sielkundige las om hierdie besering te hanteer, het meer hanteerbaar geraak, maar geensins sou ek sê dat dit iets is wat ek aan gewoond geraak het nie. Die waarheid is dat dit sleg was vyf jaar gelede toe ek wakkergeword het in die hospitaal, en terwyl daar wel wonderwerke is wat in my lewe plaasgevind het hierna, dit steeds sleg is vandag.

Weereens is ek jammer as dit nie die idee of storie is wat mense wil hoor nie maar ek was nog altyd net reguit en eerlik.

Weens my ongeluk kyk ek na die lewe baie anders nou, op ‘n dieper manier. Ek voel amper asof my pyn my nederig, en my oë op Hom gerig hou.

Ek het geleer en aanvaar hoe om oomblikke van geluk aan te gryp, en hoe om vreugde te vind ten spyte van my daaglikse uitdagings.

P01-07-04_17.16

P05-06-04_15.35[2]P05-06-04_09.49P10-06-04_16.00265612_432036206858943_961251410_o529460_366116606830496_172611704_n

Published by Health & beauty

As former international Beauty and Spa therapist, Annien motivates and gives advise on body mind soul and spirit

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: