Instede van sport verkies my kind die internet, om na You Tube lego videos te kyk, saam met maatjies Minecraft videospeletjies te speel, sy eie You Tube kanaal op datum te bring, of sy maatjie te Skype.
(Hy’t selfs ‘n “Doenlysie” vir bogenoemde, wat glad nie skoolwerk insluit nie! 🙂 My kind speel darem soms ook Lego of met met maatjies in die straat (maar laasgenoemde raak al minder…)
Kinders speel nie meer nie. Om veiligheidsredes kan hulle nie meer vryelik op hul fietse ry of buite rondhardloop nie. Selfone, TV en rekenaars is nou die “skermgenerasie” se gunsteling-manier van ontspan. Oorwerkte ouers het nie lus of tyd om hulle kinders gesonde oefen- en eetgewoontes te leer nie! Die gebrek aan balans in ons eie lewe spoel oor na ons kinders.
Ek is glad nie (soos ander) anti– die nuwe tegnologie en anti– al wat vir die nuwe generasie belangrik is nie. Hulle sê dat kinders sonder deeglike rekenaarkennis boonop sukkel wanneer hulle op universiteit land! Ek glo dat You Tube videos hulle baie leer deur hul algemene kennis te verbeter, en dat hulle selfs rolmodelle vind (die “You Tubers”) om na te volg (Sien www.ldshadowlady.com). Die manier wat die jeug vandag die wêreld sien en daarmee betrokke raak, is deur sosiale media, en deur die nuwe tegnologie te gebruik om verhoudings te skep – en te behou – met vriende. Sekere ouer mense brom of kla (myns insiens) te veel oor die manier waarin selfone, teksboodskappe, skootrekenaars, Facebook, Twitter, Instagram, ens. egte verhoudings (van aangesig tot aangesig of ten minste oor ‘n landlyn) vervang. Jongmense krap net die kop en hou aan om met vriende en geliefdes in verbinding te tree deur hulle rekenaar/foon/ipad skerms. Kritisi meen dat tegnologie mense van mekaar vervreem, en dat dit ‘n valse gevoel of begrip van intimiteit en konneksie skep. Dat niemand meer met mekaar praat nie. “Hu?” sê hierdie generasie, “O jammer. Kan jy dit herhaal asseblief? Ek was iewers anders. My vriend van die skool het my net gou geFacebook op my iPhone…”
Is jou kind (of jy) egter verslaaf aan rekenaarspeletjies? As sy vriende net in die virtuele wêreld bestaan, of hy meer virtuele vriende (ander aanlyn-spelers of speletjiekarakters) het as werklike vriende, moet jy hom dalk help met ‘n “digitale detoks” – om uit te gaan en nuwe mense te ontmoet, of saam te speel met “regte” vriende. Wanneer hy liewer vriende oornooi vir rekenaarspeletjies, is die kanse goed dat hulle in breaks ook iets anders saamdoen. En as jou kind nie saam met jou aan sosiale aktiwiteite wil deelneem nie (wat ook OK is want hy’s mos ‘n tiener!), bemoedig hom met aktiwiteite waarin hy moontlik sal belangstel in die gemeenskap, met sy eie ouderdomsgroep. Weens my werk bring ek ure voor die rekenaar deur, geen wonder my kinders doen my na nie! Dit is beter om hierdie werktyd te beplan vir wanneer hulle by die skool is..
Sê vir jou kind hoeveel skermtyd toelaatbaar is. Stel saam die reëls op soos – dat TV of rekenaar-tyd ‘n beloning is nadat huiswerk gedoen is, dat huiwerk op tyd gedoen moet word, hoeveel skermtyd toegelaat word in die week, hoeveel meer oor naweke, of hoeveel (beperkte) rekenaartyd gedurende eksamens.
Grense is goed vir hulle. Jy hoef nie te kla of skree, of te bly dreig nie. Bedoel dit net elke keer as jy Nee sê, of “As hierdie nie gedoen is teen vanaand nie..” Om ernstig opgeneem te word, beloon hulle konsekwent, en volg op met die nagevolge as hulle die grense oortree (soos “geen maats oor”, of “geen rekenaar/TV tyd vanaand”). Jy hoef nie ‘n rede of verduideliking te gee nie.
Jy kan tyd inruim sodat jou kind werk, buite speel/ oefen, EN rekenaarspeletjies speel. Balans is belangrik!