Ek het nou die AAND, met my ietwat oorgewig seun, lank ‘n volwasse gesprek gehad oor sy gewig.
Dit het eers so begin: “Ek is nou siek en sat dat Ma heeltyd hiervan paat..van wat ek mag eet en wat nie… Pappa maak sulke lekker kos!”.. “My kind”, het ek gese, “Ek probeer hard om vir julle net GESONDE kos voor te berei, julle te leer om GESOND te eet, en nie net LEKKER nie. Ek is een van die min ma’s wat dit doen. En snaaks, toe jy klein was het ek jou dikwels net vrugte en neute gevoer, tog hou julle nou net van hamburgers en chips, Macdonald’s, koek en terte, ens.” “Ja Ma, ek sien dit raak en waardeer dat Ma probeer om ons gesond te leer eet, maar EK sal besluit daaroor.” “My kind, jy’s reg. JY moet verantwoordelikheid vir jou gesondheid neem. Ek kan dit nie vir jou doen nie!!!”
Hy verstaan nie hoekom van sy maats dan so ongesond eet en tog maer is nie. Ek het vir hom gese sy probleem is dat hy BAIE eet, van die VERKEERDE kos, en antwoord toe met die verskillende opsies wat hy liewer kan oorweeg. Hy kan OF aangaan om die verkeerde goed te eet, maar in klein porsies op ‘n slag, OF hy kan so veel as wat hy wil eet, van net gesonde kos, OF hy kan net gesonde kos in klein porsies op ‘n slag eet! Hy het opsie nommer een gekies, en was verlig dat hy nou maar kon bly aandring op pizza ens, solank hy dit bietjie vir bietjie op ‘n slag eet! Agt klein etes per dag. Die gesprek oor kos het geeindig met die bevel aan my om ‘n lys van sy gekose versnaperings altyd in die koskas beskikbaar te he!
Gesond eet is so belangrik, en gemorskos (hoog in suiker, stysel en vet) word uitgesonder as dié grootste sondaar wat tot vetsug lei. Mense neem steeds dié mediese toestand ligtelik op. Ma en Pa werk, is moeg en gemorskos (waarvan jou kind natuurlik hou) is ’n vinnige, maklike uitweg. Die meeste ouers weet nie wat hul kinders deur die dag eet nie. My kinders help hulleself sommer uit die yskas! Daarom moet ek seker maak daar is gesonde kos in my huis. (Hulle sal net tjips en lekkers eet as hulle toegang daartoe het) Snoepwinkels by skole is ook ’n probleem. Hulle hou liewer tjips as melkdrankies of yoghurt aan. Daar’s niks verkeerd met peuselgoed nie, maar dit moet gesond wees (soos biltong en neute in plaas van tjips en lekkers). Dit hou jou kind se bloedsuikervlakke stabiel, verbeter konsentrasie en verhoed hiperaktiwiteit. Sommige kinders wat afgeknou word oor hul gewig, ontgroei die ekstra kilo’s en emosionele letsels en word uiteindelik gesonde, gelukkige volwassenes. Maar ander loop deur onder die aanmerkings oor sy/haar gewig, en jou oorgewig kind se selfbeeld kan ernstig geskend word as hy gespot word daaroor. Daarom is dit belangrik dat ’n mens die probleem erken en betyds werk maak daarvan. Jy kan nog jou oorgewig tiener help. Leefstyl- aanpassings is NOOIT te laat nie.
Hoe knoop jy die gesprek aan?
As julle na aan mekaar is, kan jy so ‘n gesprek aanknoop. Gewig is ’n teer saak en daarom moet jy sensitief wees. se: “Ek is bekommerd oor jou gesondheid; dink jy nie ons moet (saam) iets daaraan doen nie? Besluit hoe julle dit saam kan oplos. Vra hoe jy kan help, wat hy dink die beste is. Of gesels liewer oor gesondheid. En betrek die hele gesin. Wanneer ’n kind oorgewig is, is die res van die gesin se eetgewoontes dikwels ook nie besonder gesond nie. Pas almal se eetgewoontes aan en moenie vir jou kind laat voel dat jy hom uitsonder nie. Vra andersins ‘n persoon van dieselfde geslag om met die kind praat, omdat kommentaar van iemand van die teenoorgestelde geslag vernederend kan wees, veral vir ’n tiener. ‘n Dokter kan ook uitvind of skildklier- of hormoonprobleme nie dalk ’n rol speel nie. Of ‘n sielkundige wat opgelei is om raad en leiding te gee met gewigs- en selfbeeldprobleme, kan advies gee hoe jy jou kind kan help en watter stappe jy as ouer moet doen. Jou kind sal veiliger en minder ongemaklik voel as hy enige “issues” met ’n buitestander kan bespreek.
‘n Dieetkundige kan ‘n dieet uitwerk wat jou kind se oorgewig, ouderdom, fisiese aktiwiteit, etniese agtergrond, voorkeure, en die moontlikheid van ‘vertroosting soek in kos’ in ag neem (www.dietetics.co.za).