Jy hoef nie bang te wees vir die onbekende ( en te bly in die groef van die bekende en gemaklike nie. ) Jy KAN strewe na die volmaakte vrou. Jy kan uitblink. Dit IS moontlik!
Wanneer jy kom uit ‘n ongelukkige huwelik, wonder jy: waar het jy verkeerd gegaan, waarop sal jy die volgende keer bedag wees? Was jy ooit die Spreuke 31 vrou vir jou man ( of was hy die verkeerde een…) Nou het ek nie meer ‘n aardse man nie, maar ‘n hemelse Man. Kan God op my staatmaak – mediteer ek op die Skrif en bly gelowig – sodat Hy die vrugte van my werk pluk?
Die knap vrou vrou is aangenaam, geliefd, en bekwaam.
Sy staan vroeg op, en gee vir God die eerste halfuur van haar dag ( hierdie stap alleen verander haar lewe. ) Sy vra wat God se prioriteite is vir die dag, en fokus nie op wat sy wil sê nie maar luister na gebedsversoeke wat direk vanaf Hom kom. Dan kyk sy dankbaar uit vir die geleenthede wat Hy skep.
Sy doen moeite en gaan uit haar pad om kos aan te skaf vir haar huis.
Sy maak ontbyt en delegeer take vir die dag.
Sy bestuur haar huishouding en hou ‘n ogie oor alles wat in haar huis gebeur. Luiheid verdra sy nie.
Sy’s bedrywig by die huis en doen ywerig – nie teësinnig nie – wat sy kan ( en moet ) doen! Met vreugde werk sy ( vir die Here ) soms die nag in – om haar drome te verwesenlik. Om sterk en energiek te volhard met haar daaglikse take, volg sy ‘n gesonde diet ( reinigende kosse ) en drink water ( eerder as koffie ), slaap goed, en volg ‘n plan om fiks te bly. Hoe meer sy doen, hoe meer energie genereer sy vir die volgende ding..
Sy werk hard en doen ‘n paar goed gelyk om geld, en ‘n profyt, te maak. Sy maak en verkoop produkte en verskaf bykomstighede aan handelaars. Sy dink mooi voor sy ‘n tweede besigheidsgeleentheid aandurf. Sy brei dit dan uit met geld wat sy uit haar produkverkope verdien het.
Sy is ‘n geër en haar hand is oop om behoeftiges te help ( maar nooit ten koste van haar gesin nie. Sy weet: arm en behoeftig, kan jy nie ander help nie. ) Haar huisgesin bewonder en prys haar. Hulle is goedversorgd. Daarom vrees sy nie die toekoms nie. Sy is gereed daarvoor..
Sy is kreatief, handig en versier haar huis mooi.
Sy dra kwaliteit klere – die duurste klere van haar tyd – en mooi juwele. Sy sal liewer meer spandeer op minder, kwaliteit klere en juwele.
Sy’t ‘n sterk karakter en innerlike krag.
Met liefde en wysheid wat kom uit haar geloof, en vanuit Sy Heilige gees, motiveer sy ander met goeie raad – om voluit en gelukkig te leef. Sy huiwer nooit om die waarheid van God met ander te deel (al is dit nie altyd wat hulle verlang om te hoor nie)…
Ander staan verstom oor haar volharding en vermoë om moeilike situasies te oorkom, en noem haar “geseënd”. Haar lewe is benydenswaardig, nie oor haar sukses hier op aarde nie maar in die hemel. Sy weet diep in haar gees dat sy kosbaar en geag is in God se oë, en vind haar identiteit in haar verhouding met Hom, eerder as ‘n mens. Haar uitdrukking reflekteer die liefde en sorg wat sy ontvang, miskien nie van ‘n aardse man nie, maar haar Hemelse een.
Skoonheid kan misleidend wees, mooiheid hou nie. ‘n Vrou wat God dien, behoort waardeer te word vir wat sy doen.
Jy KAN wel die ideale vrou wees deur te fokus op Hom en nie jouself nie. Jy kan meer bereik as die gemiddelde mens deur nie op jou eie krag staat te maak nie maar op God s’n.
Jy word nie “supervrou” oornag nie. Maar uiteindelik kan jy die soort vrou word wat almal erken – ‘n sterk vrou met waardigheid.