
Ek het tot onlangs heeltemaal te veel resepteboeke gehad. Ek kan nie ‘n kookboek met mooi prente weerstaan nie.
Maar, ek beplan in my agterkop ook ‘n e-boek met net gesonde, rêrig maklike resepte (nie een van daardie boeke wat sê: “Easy healthy meals”, en dan’s dit alles behalwe maklik nie!).
Hier vind ek my maklike gesonde resepte:
*My kinder kookboeke (Ja!)
*Resepte wat ek steel van restaurant spyskaarte of kokke
*My ma se lekker soet of interissante Boland geregte
*My suster of familie se gunsteling disse
- Ek het onlangs besluit om my kookboeke deur te gaan, en al my gunsteling resepte, plus die teorie oor kookgereedskap ens (sowaar) uit te knip, en in ‘n mooi A4 lêer met plastiekvelle te plaas. (Om die resepte te kopieër in kleur is net te duur en tydrowend). Ek vind ek kook nooit uit die kookboeke nie en in elke boek is daar gewoonlik net drie resepte in waarvan ek hou. In hierdie lêer kom ook my gunsteling resepte uit tydskrifte.
- Ek het ook ‘n A5 klein flipfile waarin ek my kleiner resepte plaas. Ek is nog nie gereed om digitaal in die kombuis te gaan nie (is te bang my rekenaar meng met die kos!)
- In ‘n ander klein hardeband skryfboekie skryf ek al die resepte neer wat ek beproef het uit een van daardie resepteboeke wat meer as een resep per blad het, en wat ek nie wil uitknip nie. Hierin kom ook die resepte wat ek aangepas het en wat heerlik uitgekom het! Ek is baie heilig op hierdie boekie, en dis veral hierin wat ek materiaal versamel vir my gesonde, maklike e-kookboek. Natuurlik maak ek ook hierdie resepte oor en oor vir my en die kinders!
Daar is ‘n paar spesiale boeke met baie demonstrasies ens, of wat ek as geskenk ontvang het, waaruit ek nie graag knip nie.
Deur hierdie opwindende self-ontwerpte versameling, het ek uiteindelik weer my lus vir kook teruggekry. Ek sien deesdae uit daarna om ‘n nuwe resep te probeer en te kyk of dit maklik en heerlik genoeg was om by my versameling te voeg.
MY MAALTYD BEPLANNING
Kos is nou so duur, dat ek maklik uit die supermark stap nadat ek oor ‘n R1000 spandeer het. Die ekonomie het my dus forseer om my etes te begin beplan, en net die bestanddele vir die week se etes te koop.
Ek tik op die memo van my foon, die name van 6 maklike aandetes , 1 uiteet of wegneem ete, 4 maklike middagetes en 3 left-over variasies vir middae, en plak dit sommer op die yskas. Die resepte bestaan uit ou gesin gunstelinge reeds gemaak en ten minste een nuwe resep. Daarna werk ek ‘n inkopielys uit vir die bestanddele van elke resep. Hierdie etes is nie cast in stone nie, want daar’s aande wat ek ‘n bevlieging kry om iets anders te kook, of glad nie te kook nie. (Jy kan natuurlik elke resep verdubbel of vertrippel sodat jy die leftovers kan vries vir die aande waarop jy nie lus is vir kook nie.)
Ek het ook van hierdie struktuur gehou wat iemand saamgestel het om haar weeklikse etes te beplan:
Something old, something new, something prepared, and some kind of stew.
• Something old. ‘n familie gunsteling, bv. Spaghetti Bolognese!
• Something new. Een nuwe, eenvoudige resep vir elke week.
• Something prepared. ‘n Dis wat ek van die supermark koop wat gereed is om op die tafel te sit, soos rotisserie hoender, vooraf-bereide groente, ens.
• Some kind of stew. Een slow-cooker dis elke week. Hierdie kan ek vroeg in die dag regkry veral as ek eers later die aand tuiskom.
• Die res van die aande? Leftovers, maw kook minder. Ek het net 2 hande!
NS: Kyk ‘n bietjie na www.beyonddiet.com se gesonde, maklike resepte