Omdat ek nog nie oud is nie en nog baie planne en drome het, is ek nog ver nie klaar gelewe, of beslis nie gereed om te gaan nie!
Ek moet dus die dinge aanvaar wat ek nie kan verander nie, en die moed bly hê om die dinge te verander wat ek kan.
My hart gaan uit na mense van 70 of 80 jaar oud, wat net moeite en verdriet beleef – uitgerekte tye van pyn, lyding en teëspoed. Of mense wat aanhoudend ekstreme, ongelukkige of smartvolle omstandighede ondervind. Wat moeg is vir die lewe. Dit hou vir hulle geen vreugde meer in nie en hulle wens liewer om maar dood te gaan. Jy wil normaalweg so lank as moontlik bly lewe. Wanneer jy hierdie drang verloor en eerder die dood verkies as die lewe, is jy moontlik depressief. God wil tog hê dat ons optimaal leef – dat ons ‘n kwaliteit lewe op aarde geniet – wat vol, gelukkige en vervuld is! Jou lewenskwaliteit is belangriker as die aantal jare wat jy op aarde is.
Isak Burger skryf in sy boek, “5 minute voor en na die dood”, ook van mense wat lewensvervuldheid beleef, al het hulle nie lewenskwaliteit nie. Mense (soos ek) met pyn, wat sieklik of gestremd is, of wat soos Helen Keller ten spyte van ‘n gebrek tog ‘n sinvolle en betekenisvolle lewe lei. Mense wat hulle doel op aarde besef en al hulle talente uitleef wat aan hulle gegee is – tot eer van God se naam. Dit gaan nie oor hoe lank jy leef nie maar oor of jy jou doel in die lewe bereik het.
Hierdie lewe is net tydelik, en ons moet ons bearbei en gereed wees vir die ewige lewe hierna, waar daar geen swaarkry en pyn meer sal wees nie. Dit maak dan nie rêrig so saak of jy ‘n slegte lewenskwaliteit het hier, nou, nie. Solank jy die doel vervul wat God vir jou hier beplan, en vir jou skatte bymekaarmaak vir daar en nie hier nie. Dit kan jy doen deur jou talente vir Hom te gebruik, aan ander onverdiende genade te betoon, wanneer jy dinge opoffer of verduur ter wille van Sy naam. Dan word alles wat jy moes prysgee of ly, die moeite werd.
Die belangrikste is of jy die Here aangeneem het (as Verlosser) en of jy sy doel en plan vir jou lewe verwesenlik
http://www.voelgoed.co.za/blogs (onder “Voorkoms”)