Ken jy mineraalsoute (“tissue salts”)? Die 12 pienk of blou botteltjies minerale wat jy by omtrent enige apteek of gesondheidswinkel kan koop teen selde meer as R50? Julle weet nie hoe nodig dit is nie! Mineraalsoute (wat verfynde minerale is) moet perfek gebalanseerd in ons liggame voorkom vir blakende gesondheid. Dit kom in organiese kos voor – maar aangesien soveel chemiese kunsmis deesdae gebruik word, bevat ons grond nie meer die perfekte balans nie, en het ons kos dus ‘n tekort aan minerale.
Ek en my kinders maak baie hierop staat om ons algemene welstand te behou! Daar is soute vir styfheid, swakheid, bene, tande, verkoue, aknee, inflammasie, spysvertering, hoofpyne, sinus, enseem, hoes, skilfers, krampe, pyn, hardlywigheid, arthritis, naarheid, donker kringe onder die oë, swak groei, infeksies, spasmas, oormatige sweet, stink voete…you name it! En ook vir spanning, angs, senuwees, woede, ontsteltenis, depressie, irritasie, huilerigheid, swak geheue, uitputting, ens.
In London het ek in ‘n apteek gewerk, en elke oggend het die apteker (wat ook ‘n homopaat was) vir ons laat sit op ‘n stoel en vir ons 3 pilletjies “Kali. Phos.” gegee om onder ons tong op te los. Ek wou weet waarvoor dit dan is, en hy het gesê dis vir “’n positiewe uitkyk op die lewe, emosionele stabiliteit en ‘n gevoel van welstand”…
Terug in Suid Afrika het ek, jare daarna, Iridologie bestudeer (die studie van die oog se iris), en moes ons mense se oë analiseer en daarna ‘n leefstyl program aanbeveel. So ‘n program het eenvoudig die volgende komponente bevat: ‘n Gesonde dieet met baie vrugte en groente, oefening, vitamienes en hierdie mineraalsoute. Ek het in die klas gesit en die naam van die mineraalsout “Kali Phos.”erken wat die apteker ons jare tevore laat neem het. Die lektrise het aanbeveel dat ons elke oggend voor klas hierdie mineraalsout (Nr.6) inneem sodat ons kon konsentreer in die klas! Ek het ook geleer dat dit ‘n brein tonikum is en breinuitputting tydens eksamens verlig, dat dit help vir emosionele spanning, emosionele pyn, senuwees en ‘n goeie kalmeermiddel is. Dit gee ‘n gevoel van emosionele balans vir kinders, veral wanneer ‘n kwessie by die huis soos egskeiding die kind ontstel. Ons studente het ook die voorreg gehad om Margeret Roberts (wat boeke hieroor geskryf het) se plaas te besoek waar sy hierdie soute kweek (maar ek kon ongelukkig nie saamgaan nie, want was weens swangerskap versigtig vir die lang pad Hartebeespoortdam toe).
Volgens haar boek vir kinders, bied die tegnologiese eeu waarin ons leef, wonderlike geleenthede vir kinders, ontwikkel hulle vinnig nuwe feite, idees en gedagtes, en raak hulle maklik goed baas wat vir ons ouer generasies totaal duister is. Maar hiervoor het hulle ‘n goeie dieet en mineraalsoute nodig.
Wie moet mineraalsoute inneem?
*Jy – As jy ‘n ooreiste ouer is met aktiewe kinders wat ‘n blaaskans soek, en daagliks meer eise en ‘n klomp goed op een slag moet hanteer, soos soggens die gejaag, laat saans die huiswerk… Om altyd kalm en teenwoordig te kan wees. Of indien jy gesondheid en welsyn nastreef in ‘n wêreld wat al meer gejaagd word!
*Jou kinders – as jy hulle vrese, angs, gehuil, ontsteltenis, en selfs woedebuie wil laat wyk. (En ja, die soute werk onmiddelik!) Dikwels word die spanning in ‘n kind se gesig weerspieël deur selfs meer inspanning in ‘n besige, frantiese ma, pa of onderwyseres. Elke bekommerde kind verdien die kans om aan die blomme te kan ruik terwyl hul angstigheid, kwellings en die teenslae van die lewe uit die weggeruim word. Deur daarby hul dieet aan te pas, sal swak gedrag, swak gesondheid, swak selfbeeld en die onvermoë om die lewe te hanteer, vanself verdwyn.
Mineraalsoute word onder die tong geplaas (waar daar aartjies is waardeur dit die vinnigste in die bloedstroom opgeneem word), of in die mond opgelos, en werk dadelik. Lees agter op die botteltjie vir watter toestand elke sout is, en kies self of jy die pilletjies nodig het.
Neem dan 2, 3x per dag. In akute toestande kan jy tot 3 op ‘n slag inneem, en meer dikwels..
Indien jy meer as een toestand wil behandel (bv. Angs, of Hoofpyne), is dit die beste om 2 van elke botteltjie te laat oplos in jou mond, en ‘n paar minute te wag tussen elk.
Daar is ook gekombineerde soute in een botteltjie, wat meer as een mineraal bevat, maar die individuele soutbotteltjies het ‘n hoër konsentrate van die sout wat vir jou spesifieke toestand benodig word.
Die enigste kontra-indikasie is om nie No 12 te neem as jy skroewe, heupvervangings, ens. bevat nie, want dit werp vreemde voorwerpe uit die liggaam. Andersins, is mineraalsoute natuurlik en veilig, en kan jy nooit te veel op ‘n slag inneem nie!
Verkorte blog sal op http://www.voelgoed.co.za/blogs onder “Voorkoms” verskyn