WhatsApp Facebook Twitter Share
‘n Sogenaamde vriendin wat nou die dag vir my sê, “Ek sou nie die kans vat om Yoga te doen nie, maak nie saak hoe goed dit vir jou liggaam is nie” (sy beskou dit as “evil”), het my agterna laat wonder of sy werklik ‘n vriendin was, want sy sou dan tog sekerlik begrip hê vir die pyn en styfheid wat ek elke dag ondervind. Sy het duidelik geen idee wat ‘n tetrapleeg se lewe behels nie (vervies ek my vir mense wat oor iets oordeel waarvan hulle niks weet nie!). Ek het daarom besluit om my nie aan haar te steur nie, en sodoende verskeie ander aktiewe Christenvroue ontmoet wat saam met my Yoga by die gimnasium doen. Skynbaar bid hulle sommer aanhoudend terwyl ons moet stil lê en mediteer! (Ek ook!).
Een van my drome gaan binnekort vervul word, en dit is om ‘n strek-kursus te doen. Vir my is strekoefeninge rehabiliterend, en om slegs dit te doen amper voldoende om die gesondheid van jou liggaam in stand, slap en beweeglik te hou.
Waarom is strek so wonderlik vir my? Dit voel amper asof dit die pyn uit die spiere strek. Dit maak die algemene mobiliteit van my spiere soveel beter. Ek kan verder buk, rek of uitstrek. Jou kanse om sulke uitgestrekte spiere te beseer is soveel kleiner. Dit laat sommer ook die spiere langer en leniger vertoon (soos ‘n danser s’n!), en terselfdertyd verminder dit emosionele spanning heelwat. Ek sal maklik die hele middag om slaap na ‘n Yoga sessie!
BELANGRIK OM TE ONTHOU
*Die meeste gimnasiums bied nou strekklasse aan, sowel as ander klasse wat ook strekking insluit, veral Yoga en Pilates. As strekking vir jou ‘n nuwe ding is, is dit dalk goed om ‘n klas te neem om bekend te raak daarmee.
*Wanneer ek met gewigte oefen, sal ek seker maak dat ek ook strek nadat elke spiergroep geoefen is (arms, skouers, bene, ens), sodat die spiere nie net verkort en uitbult nie maar verleng ook.
*As jy net strek oefeninge doen (sonder ander oefeninge), is dit beter om liefs eers jou spiere op te warm deur ‘n vinnige 5-minute stap te vat terwyl jy jou arms beweeg om sirkulasie te verhoog.
*Doen elke strek 2-4 keer. Hou elke strek vir 10-30 sekondes lank.
*As jy net strek vir oefening, is dit altyd beter om die hoofspiere eerste te strek (bene, rug en bors) en die kleiner groepe laaste (skouers, voor-arms (biceps) en agter-arms (triceps).
*Om te strek veroorsaak wel ‘n bietjie ongemak of spanning op die spier, maar dis ‘n heerlike gevoel. Moet egter nie die spier strek as dit pynlik is nie, en wag liewer tot die pyn verdwyn het.
*Moenie die spiere met bons-bewegings strek nie. Strek dit geleidelik tot jy weerstand voel en hou dit dan daar vir 10-30 sekondes. Dit is die veiligste. “Bouncing” veroorsaak klein skeurtjies in die spier, wat lei tot stywer spiere en besering.
* Haal konstant en diep asem terwyl jy strek. Dit neem tyd vir die spiere om te verleng, veral as dit styf is, so maak seker jy’s geduldig en nie gejaagd nie.
*Indien jy nie naby ‘n gimnasium is nie, Google gerus ‘n paar strek oefeninge, of gaan loer op Pinterest.
WANNEER OM TE STREK
1. Soggens: Gedurende slaap raak jou spiere styf weens onaktiwiteit. Hoewel dit beter is om te strek wanneer jou spiere warm is, kan jy ligte strek bewegings doen om seker te maak jy speel klaar met styfheid en verhoog sirkulasie, wat jou makliker laat wakker word!! Strek net hierdie slag stadiger sodat jy nie jouself seermaak nie.
2. Na jy gesit het vir ‘n lang tyd: Deur vir ‘n lang tyd te sit by die werk, op ‘n vliegtuig of voor die TV veroorsaak heelwat spier styfheid en seerheid. Wanneer jy vir meer as ‘n uur gesit het, staan op, loop rond en doen ‘n paar strek oefeninge!
3. Hou jou energie vlakke en bloed sirkulasie hoog deur selfs te strek bo en behalwe die gim sessies.
4. As jy ‘n area het wat veral styf is, strek daardie area meer dikwels gedurende die dag.
En Whalla vir ‘n meer mobiele, gesonde jy!