
Deur verantwoordelikheid te neem vir jou gesondheid, skraap jy die moed bymekaar om jouself minder te bejammer en byvoorbeeld tog meer mediese inligting betreffende jou gesondheidskwessie of probleem in te win. Jy hou op om jou bekommernisse te ignoreer en besoek weer jou dokter. Of besluit, soos ek, om hom sommer te skakel om te hoor of die MRI, wat lankal reeds gedoen is, nie dalk dui op ‘n ander probleem wat my erge rugpyn veroorsaak nie. Dit lei daartoe dat sy sekretaresse uit die bloute aandui dat dit waarskynlik ‘n rugspasma (afkomende van die nek) is, en dat ek fisio toe moet gaan. Die fisioterapeut masseer die pyn eensklaps beter en behandel die spasma met klankgolwe en naalde. Ek eindig met tydelik minder rugpyn, is verlig en voel sommer meer in beheer van my gesondheid!
Ek het ook verantwoordelikheid begin neem deur, na my nekoperasie en gedurende die herstelpad daarna, tog weer terug te keer na ‘n holistiese leefwyse. Deur my liggaam weer “holisties” te begin behandel (die liggaam in totaliteit, op natuurlike maniere en met natuurlike middels). Ek het weer begin gesond eet, ‘n hoop natuurlike tissue salts elke dag geneem (veral nr 6), ‘n opbouende gesondheid shake begin drink, en my saamgetrekte rugspier met Yoga klasse begin verslap.
Volgens Joyce Meyer in haar boekie “Good health, good life”, is een van die grootste probleme in die samelewing vandag, dat baie mense nie verantwoordelikheid neem vir hul gesondheid nie.
Hulle gee dikwels iemand anders die skuld wanneer hulle probleme optel. Hul ouers, hul lewensmaat, hul skool, hul werkgewer, selfs die maatskappye wat sigarette of kitskos vervaardig! Miskien is jy (soos ek) tog nie noodwendig heeltemaal verantwoordelik vir jou huidige situasie nie. Bowendien gebeur baie dinge met mense wat hulle nie kan beheer nie. Miskien het jou ouers jou baie kitskos gevoer toe jy jonk was of het hulle jou nooit aangemoedig om te oefen nie. Miskien het jy die neiging om geneties meer vet te stoor as die algemene mens. Miskien het jy ‘n 60-uur-‘n-week werk met ‘n baie geryery, wat baie min tyd oorlaat om tuisgemaakte kos voor te berei. Maar alhoewel blamering jou dalk help om jou skuldgevoel te verlig vir ‘n tydjie, hou dit jou net gevange in jou huidige situasie.
‘n Passiewe mentaliteit is gevaarlik. Maak nie saak hoe jy in hierdie slegte situasie beland het, of al is jou situasie nie jou skuld nie, is dit wel jou skuld as jy dit as verskoning gebruik om niks
daaromtrent doen nie, en nie probeer om die beste daarvan te maak of bo dit uit te styg nie. Jy het dalk baie verskonings en redes vir jou swak gesondheid, slegte gesindheid, of ongebalanseerde lewe. Maar solank jy verskoning daarvoor maak, hoe minder sal jy vordering maak.
Om te vorder en bo jou huidige realiteit uit te styg, moet jy glo jy kan, en begin aksie neem. Breek jou ou gewoontes en begin die proses om jou lewe te verander. Al is dit ‘n hengse
verantwoordelikheid, gee dit vir jou die kans om totale vreugde, vryheid en vervulling te smaak.
God het vir ons vrye keuse gegee. Jy kan kies om jouself te bejammer, of die commitment maak om jou liggaam en siel instand te hou soos wat jy moet. Die keuse is joune! Jy kan nie selfbejammerend en kragtig terselfdertyd wees nie. As jy ‘n probleem het met selfbejammering, sal jy nie vordering maak tot jy ophou om jouself jammer te kry nie. Maak eenvoudig die besluit om dit te doen. Vermy selfbejammering ten alle koste. Dit steel jou krag, wat jy nodig het om die persoon te word wat jy bedoel is om te wees.
God gee vir ons die hulp en alles wat ons nodig het op aarde om geestelik volmaak te kan wees.
Hy se “jy’s tot alles in staat deur God wat jou krag gee”. As jy ongelukkig of ongesond is, het jy die krag om dit te verander of te verbeter. Maar dis vir jou om daardie hulpmiddels te neem en dit
te gebruik om jou gesondheid sover moontlik te herstel, en Sy tempel (jou liggaam) op te knap vir Hom. Hy kan nie die werk vir jou doen nie. Jy moet dit self doen – om uiteindelik vervul en vry te wees van wat jou terughou.
Gryp die lewe positief aan, neem verantwoordelikheid vir waar jy is – vir jou lewe en jou keuses – van nou af, en moet nooit terugkyk nie! Jy kan so gesond en aantreklik moontlik lyk. Jy kan great voel. Jy kan fiks en gelukkig wees tot in jou ou dae. Of jy neem verantwoordelikheid vir jou gesondheid, of jy doen dit nie. Dit hang van jou af.