WhatsApp Facebook Twitter Share
Ek skryf maar altyd oor wat op die gegewe oomblik in my kop is. Hierdie slag is dit die massas besittings waarna ek teruggekeer het in ‘n deurmekaar huis. Dat my meubels opgevreet is deur ons gefrustreerde skaaphond wat by die huurder agtergebly het, het my minder gepla of geskok as die hope en hope goed wat ek die afgelope paar jaar vergader het.
My droom is om hierdie nuwe jaar so minimalisties as moontlik te lewe! Daarmee sê ek nie dat ek ondankbaar is vir die feit dat ek onder andere VYF badsakkies het nie! Om ook jou goed net summier te begin uitdeel het vir my ook nog altyd na ‘n sonde gevoel…
Tog het ek hierdie vakansie die duidelike boodskap uit die Bybel gekry, “Verkoop jou goed of deel dit uit aan die armes”. So ek sal verkoop dit wat ek kan, want skielik het dit vir my ‘n sonde geraak om so “ryk” te wees terwyl daar soveel ander is wat sukkel. (My dogtertjie het egter mooi gevra dat ek asseblief nie die volle inkomste weggee nie!)
Met dankbaarheid vir die oordosisse van voorraad wat ek het, het ek die volgende besluit gemaak..
Alles wat nog werk, heel en bruikbaar is of wat vir my mooi is, die behou ek – al het ek nie soveel van elk nodig nie! Ek sal dit opgebruik in die jare wat voorlê.
Ek gaan egter ophou KOOP! Daar is nou genoeg versamel vir eers! Net dit wat stukkend raak, vervang moet word of rêrig nodig is sal ek aanskaf , selfs tweedehands). Verder sal ek sien en kom klaar, en al vyf badsakkies opgebruik tot hulle uitmekaarval.. (Ek het my les geleer toe ek per ongeluk een van my ses sonbrille weggee en nou spyt is daaroor!)
Daar is heelwat organisering wat vir my nou voorlê. Ek het besluit om dit KAMER vir KAMER te neem. Ek het begin by my slaapkamer, en dit het my ‘n volle twee dae geneem om al my klere, skoene, handsakke, serpe, juwele, grimering, toiletware en boeke deur te gaan en alles, na die vakansie, op die regte plekke te pak! Net twee sakke het oorgebly – een vir weggee goed en een vir dit wat in ander kamers hoort. Intussen moes ek myself en my kinders leer dissiplineer om dit wat ons in die kamer of elders in die huis verskuif, weer op die regte plekke terug te plaas. (Met ander woorde – aandag te gee aan die “detail”!)
Die meeste van ons gaar op. Ek wil amper se, die wat voorheen gesukkel het, gaar nog meer op want ons bly bang vir die “maer jare” wat moontlik kan opduik! As ek na tweedehandse plekke kyk (waar ek graag rondsnuffel!), op aanlyn advertensies, of Facebook koop/verkoop groepe, kom ek agter daar is tonne en hope goedere wat mense reeds aangeskaf het! Berge klere, ‘n lot meubels, potte, panne, kieries – alles denkbaar. Soos wat al hierdie dinge weggegooi word, word weer aangeskaf. En sonder dat hulle meer nodig het! Mense koop goed op die ingewing van die oomblik. Daar is selfs splinternuwe goed in die tweedehandse winkels – items wat ongebruik is, nog steeds met hul pryse aan en in die oorspronklike verpakking. Alles van nuwe geparfumeerde kerse tot splinternuwe ornamente of toerusting. Dit wys vir jou dat die aksie van koop dikwels totaal ongeassosieerd is van behoefte, of selfs begeerte. Dit lyk asof dit net ‘n kompulsie is wat nodig is om vervul te word, dis al. Tyd, geld en moeite is ingesit om al hierdie goed aan te skaf, en dit net om weer daarvan te moet afstand doen, met soveel van ‘n gesukkel!
Jongmense maak bymekaar – net om, nadat hulle ‘n kort leeftyd vol materiële besittings geniet het, weer daarvan afstand te moet doen – besittings wat in baie gevalle skaars gebruik is, selde nodig is en maklik van vergeet word.
Nadat ek die boek “Stuffocation” deur James Wallman gelees het, het ek finaal besluit dat ek nie meer hierdie pad wil volg nie. Uitgesluit kruideniersware, krag, petrol, kinders se skoolklere, onderklere, basiese huishoudelike middels en toiletware, gaan ek eerder tweedehands koop, of eenvoudig daarsonder klaarkom!
Daar is soveel oorvloed. ‘n Mens kan goedkoper leef en het die meeste van die goed nie nodig nie. Ek was nog nooit goed daarmee om te onderskei tussen wat ek rêrig nodig het en wat ek bloot net wil hê nie! Wanneer ek besluit ek het iets nie nodig nie en geforseer word om nee daarvoor te se – teen my sterkste impulsies by kere – kom ek agter dat niks verander het nie. Nie my gesondheid, geluk of innerlike harmonie nie. Die meeste dinge is net “lekker om te hê” – ware benodigdhede is baie beperk.
Hierdie leefwyse van minimalisme is baie nodig. Die ondervinding kan jou diep binnekant net ten goede verander…