DOEN JOU BES MET LEEFSTYL AANPASSINGS
Die ongeluk het kort daarna plaasgevind (en omdat ek toe in die hospitaal verlam gelê het, kon ek nie meer aan die kinders vasklou nie). Omdat ek weer van vooraf moes leer loop, eet, bad en skryf was my nuwe blaadjie een met meer as die gewone aanpassings na ‘n egskeiding.
Niks het my egter voorberei op die pad van pyn en aanpassings wat sou voorlê nie – elke dag. My lewenskwaliteit sal nooit weer dieselfde wees soos voorheen nie en ek sal altyd met chroniese pyn en styfheid moet saamleef (tensy ‘n wonderwerk gebeur).
Miskien is jy in my posisie, of is jou omstandighede uniek. Elke ou het sy eie pyn of seer, krisis of uitdagings.
Ek het op ‘n punt gekom waar ek skielik nie meer van myself gehou het nie. Wanneer pyn en ongemak jou enigste fisiese ervaring is, begin jy selfs jou liggaam straf. Jy oefen nie en eet nie gesond nie want jy wil nie die liggaam wat jou soveel pyn en trauma besorg, mooi behandel of vir dit sorg nie.
Maar vir self-oorlewing, moes ek steeds die beste maak van myself en gemaklik voel met wie ek is. As jou liggaam groter, of ouer is as wat dit moet wees, met pyne en skete waarvan jy moeg is, help dit nie jy behandel dit as ‘n vyand nie.
As jy ‘n vriend gehad het wat siek was en in die nood, sou jy als doen wat jy kon om daardie persoon te help. As my liggaam restourasie of renovasie nodig het, kan ek als wat ek kan doen om dit te help, en dit nie verag of verwerp nie. Ek kan my liggaam aanvaar as my vriend en maat vir die lewe, ‘n goeie verhouding daarmee ontwikkel, en vir myself omgee soos vir my beste vriend.
Ek het geleer dat wat ook al jou situasie is, jy tevrede moet wees. As ‘n mens ontevrede is met jou voorkoms, ouderdom, gewig, situasie of enige iets anders, wys jy, jy is ondankbaar vir wat jy tans het.
Dit is wat dit is. Jy kan die beste daarvan maak. Jy leer om te aanvaar dit wat jy op die oomblik is. Jy moet doen wat jy kan doen, en nie ontmoedig, bitter of gefrustreerd voel oor wat jy nie kan doen nie.
Selfs al is jou vermoë om te oefen beperk, kan jy aanhou doen wat jy nog kan, terwyl jy versigtig is om nie jouself te beseer nie. Jy kan aanhou reg eet, baie water drink, en genoeg slaap. Jy kan glimlag en die beste van dinge maak!
Selfs wanneer mense voel ek vaar nie goed genoeg nie, herinner ek myself om als wat ek doen, te doen asof vir die Here en nie vir mense nie. Dan maak dit nie regtig saak wat mense dink nie.