Klere:
Breë strepe in rooi, wit en blou. Strepe om die soom van jou rok laat jou nie breed lyk nie.
3-D blom detail – wat jy aan kan vat.
Skoene met strepe op die hakke!
Reflekterende sonbrille maak ʼn stelling en gee bietjie kleur.
Oorgroot tropiese palmboom afdrukke en helder welige blomme op jou klere. As dit vir jou te veel is, dra net ʼn oerwoud-geïnspireerde bykomstigheid by jou neutrale klere.
Vertoon jou decolletage met ʼn afskouerhempie hierdie seisoen.
Denim is steeds in, soos denim sonrokke in sagter, ligter-gewig materiale.
Die netjiese aangly-sandaal is die gemaklike skoen van die seisoen.
Die vollengte swembroek is in vir die klein en voller figuur.
Alles in wit vir somer sofistikasie. Maak seker jy gebruik ʼn goeie wasmiddel om jou witte wit te hou.
Valle en krulle wys ʼn Spaanse invloed. Dra dit in lae.
Afrika-geïnspireerde afdrukke, materiale en bykomstighede is reg oor die wêreld te sien!
Uitgerafelde some bly steeds, soos al vir ‘n paar seisoene, in die mode.
Die “espadrille” skoen wat pas by seiljagklere.
Die kreatiewe siele sal die interessante handwerk in kledingstukke met persoonlikheid, waardeer! Byvoorbeeld pragtige tunieks van katoenmateriale, met borduurwerk, krale, spieël-blinkertjies, en drukwerk van oer-stamme.
Silwer, goud en brons word nie net meer son-onder gedra nie, maar ook bedags.
Oorgrootte sonbrille – hoe groter, hoe beter.
ʼn Knoop op skoene, ʼn hemp of rok wat voor vasgemaak word.
Hare:
Vlegsels, “bronde” (brons-blonde) en glansende gesonde hare is hoogmode hierdie seisoen. Alle tipes vlegsels is hoogmode, solank die styl jou pas. Ligstrepies word gebruik vir die bronserige effek. Deursigtige blou en pienk as skakerings is nou meer gewild as crazy kleure. Vir blondines is effense donker wortels hoogmode.
Die top 3 haarstyle is die lang “bob”, vanaf net onder die wangbeen geknip met ʼn sagte snit na onder, en effens korter agter. Ook die kort bob net tot by die kakebeen. En die uitgegroeide kuif wat die gesig raam. Die nuwe haarstyle lyk on-oordoen, met natuurlike onreëlmatighede, en jy kan jou hare toelaat om natuurlik droog te word en vry te hang. Vir ʼn vars voorkoms, dra ʼn lae kantpaadjie, met die hare weg van die gesig af.
Om kort hare modern te hou, moet produkte gebruik word wat ʼn natuurlike voorkoms aan die hare gee, soos ʼn mousse. Lang hare word sterk, vogtig en glansend gehou deur produkte te kies vir jou spesifieke haarsoort. Gebruik ook ʼn goeie haar behandeling veral as jou hare blootgesel word aan UV-strale en hitte.
Dis natuurlik nie ʼn “moet” dat jy die mode slaafs hoef na te volg nie, maar dalk staan een van hierdie idees jou aan, of jy het so iets in jou kas en kan ietsie van die mode hierdie seisoen jou eie maak!