Gesond leef is ‘n eenvoudige lewensfilosofie. Dit behoort ‘n praktiese realiteit te wees en nie ‘n onbereikbare fantasie nie. Dit begin met die volgende beginsel: een klein verandering, een dag op ‘n slag.
Dit is baie moeilik om gesonde gewoontes te vorm. Baie mense se pogings om hulle lewenstyl te verander duur net ʼn paar dae of weke, en eindig dikwels in ‘n teleurstellende mislukking. En die emosionele en finansiële terugslae van “quick fixes” is boonop afbrekend.
Kyk mooi na hoekom jy wil poog om gesonder te leef. ‘n Besluit sonder motivering of om te weet wat die voordeel daarin is vir jou, sal jou nie gefokus hou nie. Wat is jy moeg van? Waarom sal jy hierdie slag gefokus bly?
Kies een lewensverandering wat jy wil bewerkstellig, en stel realistiese doelstellings vas om dit te bereik. Byvoorbeeld, as jy dit nie reggekry het om ‘n volhoubare oefenroetine te volg nie, vermeerder jou oefen dae met een dag per week, elke maand – totdat jy 3 dae per week oefen.
JOU DOELSTELLING MOET WEES OM TE BEGIN DOEN INSTEDE VAN ALTYD TE DINK WAT GEDOEN MOET WORD.
Dit is beter om een leefstylverandering te maak elke 2 tot 3 maande eerder as 10 veranderinge op ʼn slag. Identifiseer eers die doelstellings wat die meeste impak op jou selfvertroue sal hê, en pak hierdie eerste aan op jou lysie – want as jy hulle bereik het, sal jy voel jy kan die ander ook regkry.
Baie mense verloor motivering om op die reguit en nou pad te bly wanneer die euforie van ‘n nuwe gesonde lewenstyl begin daal. Dan moet jy jouself herinner. Dis OK om slegte dae te hê, moet dit net nie laat ophoop omdat jy soos ʼn mislukking voel nie. Aanvaar die feit dat jy pas verloor het, en klim terug op die wa!
MOET NOOIT OPGEE op die doelstelling om JOU BESTE FISIES, EMOSIONEEL, VERSTANDELIK EN GEESTELIK te wees nie. Gee aandag aan al hierdie areas en wees goed vir jouself wanneer jy jou ritme verloor het.
Om ʼn verslawende gewoonte te los, is dit makliker om jou daarvan te speen as wat jy net “cold turkey” daarmee ophou. Geniet jou reis na gesondheid. Om gesond te probeer leef, moenie ‘n straf wees nie, maar is essensieel vir ‘n vervullende, belonende lewe. Dit is vir jou ‘n goeie belegging.
Dit is nooit te laat om ʼn beter of gesonder pad te kies nie. Elke dag is ʼn geleentheid om ʼn nuwe keuse te maak. Kies om gesond te leef!