Die Here praat dikwels met my deur middel van flieks. Deur so ‘n openbaring is my gesindheid oor my motorongeluk en die nagevolge daarvan, sowaar in ‘n nuwe rigting gestuur!
Ek besef nou dat ek nie meer langer kan toelaat dat my pyn my lewe beheer, dat my (steeds) nuwe fisiese beperkinge my as mens negatief verander nie. Dit was nie maklik nie, maar ek kan my omstandighede nou begin aanvaar, en uiteindelik vorentoe beweeg. Maak nie saak of ander my nie verstaan nie. Wat maak dit saak as hulle wonder hoekom ek funny loop, of stadig, of traag is om te buk. Of wanneer ‘n naasbestaande my hanteer asof ek skielik useless is?
Dit help my om my kop so vol as moontlik te maak met dinge wat die fisiese pyn uitdryf, asook die gedagtes waarmee ek myself label (soos dat ek skielik oud, hulpeloos, ʼn gestremde is..). Ek verander “ek kan nie” na “hoe kan ek dit doen?” Soos op my dogter se Grd 3 kamp, waarna ek met ʼn positiewe ingesteldheid was om vir ʼn slag “buite die boks” te opereer. Ek het weer normaal gevoel, en was so verras dat ek ‘n groot groep meisies op my eentjie kon hanteer, dat ek oor die heuwel kon stap, of met die nagmars, met ‘n stok wat ek opgetel het op die berg (het ek geglimlag toe ek die volgende oggend ontdek hoe verskeie seuntjies ook loop met ʼn stok, wat hulle opgetel het!) Ek het mooi dinge raakgesien of waardeer wat ander nie opgelet het nie. Die klein dingetjies. Daardie naweek was spesiaal en iets wat ek dalk nooit so sou beleef het as hierdie ding nie met my gebeur het nie…Nina sal dit ook nooit vergeet nie..
Ek verberg nie my negatiewe gevoelens (vir ander) nie – of ontken dit nie, maar skuif hulle eers net eenkant toe en vind gelukkige dinge om my tyd mee te vul. Wanneer ek ontsteld voel as dinge nie werk soos dit voorheen gewerk het nie, mag ek dalk gefrustreerd voel vir ‘n tyd, maar begin onmiddellik daarna om die probleem op te los.
Dit help wanneeer ‘n mens jouself forseer om negatiewe emosies te verplaas met positiewes. Om kreatief te wees en’n manier te vind om die ESSENSIE van dit wat jy voorheen van gehou het om te doen, te geniet. Andersins, ‘n ewe goeie plaasvervanger te vind daarvoor. Ek kan nie meer skoonheidsbehandelings gee vir mense nie, maar ek kan daardie tyd nou gebruik om te skryf ( oor skoonheid!), of te lees. Al neem dit ekstra tyd om nou aan te trek of my naels te verf, waardeer ek die feit dat dit steeds moontlik is, en kan ek steeds my beste gee in dit wat ek voorheen as vansprekend aanvaar het.
Ons almal verander soos ons ouer word, dit is onvermydelik. (Ons hare verkleur, ons kry plooie…). Ons moenie bang wees vir die verandering nie. Om vorentoe te beweeg, beteken om uit te breek uit die ou shell en te werk met die nuwe mould. Onsself te herdefinieer.
Ek het absoluut geen idee waar môre my gaan lei nie, maar sal niemand se goedkeuring, simpatie of begrip meer nodig hê om daar te kom nie…
Wanneer ‘n skielike stywe hand maak dat ek ‘n glas laat val of nie aan iets kan vashou nie, bekommer ek my nie meer daaroor as ek alleen is nie, of is ek tussen ander, lag ek en maak ’n lawwe opmerking daaroor..
Ek het besef dat dit die manier is hoe ek hierdie hele situasie moet hanteer… sonder bitterheid. Om net vorentoe te beweeg en “uit te kyk” vir dit wat my gelukkig maak. Die engele op my pad. Daar is geen ruimte vir bitterheid as ‘n mens aanvaar dat die lewe gebeur, of jy daarvoor vra en daarvoor voorberei het, of nie.
Die pyn kan wreed, selfs onmenslik wees – fisies en emosioneel (myne byna meer emosioneel as fisies). Stres en bekommernis vermeerder ook pyn, maar ook wanneer ‘n mens klem lê daarop. Pyn kan jou nie oorweldig as jy dit nie toelaat nie. Dit is dan wanneer jy op jou tande moet byt en “wegraak” in iets om die pyn uit jou gedagtes te dryf. Iets te vind waarin jy jouself kan uitleef, ‘n passie wat jou vervul. Of om jouself te “verloor” in iets kreatief. Die mooiheid in die alledaagse dingetjies te ontdek…
Meer informasie: www.apparelyzed.com
Blog ook op www.voelgoed.co.za/blogs
Well done Annien!
LikeLiked by 1 person