Maak jou velsorg en grimeringroetines vir jouself makliker deur ‘n paar van my beproefde wenke te volg
Wend jou grimering aan op ‘n spesifieke tyd elke oggend – insluitende naweke (as jy met grimering rondloop!)
Kry ʼn vasgestelde orde waarin jy jou grimering aanwend (onderlaag gevolg deur oogskadu, ens.)
Bly in een kamer totdat jy alles daar klaar gedoen het. (Na jy gestort het, borsel ook sommer jou tande by die wasbak, ens.)
Bespreek skoonheidsbehandelings, soos maandelikse facials, op vaste tye – sodat dit ‘n verwagte deel van jou skedule raak.
Voor jy gaan bad of sit by jou lessenaar, gee vir jouself ‘n gesigbehandeling wat kan werk terwyl jy ontspan of jou rekeninge betaal. Ek sal sommer terwyl ek TV kyk, vir myself ‘n manikuur gee!
Met ‘n maklike haarstyl kan jy baie tyd spaar. Knip net die punte gereeld.
Kies een basiese velsorg reeks waarvan al die produkte ontwerp is om saam met mekaar te werk.
Hou wasmiddel en handeroom in al die kamers waar jy dit gebruik soos die badkamer of kombuis. ‘n Wasmiddel met ‘n pomp-aksie spaar tyd. Masseer sommer terselfdertyd vogroom in jou naelvliesies.
Stel ‘n dag of nag grimeer voorkoms vas, met die minimum produkte. ‘n Grimeerkonsultant by een van die groot kettingwinkels kan jou hiermee help.
(Ek moet net die gewoonte afleer om my grimering sommer in die kar (of die ry!) aan te wend!)
Is die plek waar jy jou grimering tuis aanwend, geskik daarvoor en die beligting goed? Is dit gerieflik om jou grimering hier te stoor?
‘n Gereedskapskis van hardewarewinkels werk goed om jou grimering in te stoor. Organiseer al die items in kompartemente, met die items min of meer in die orde waarin jy dit gebruik.
Gaan deur jou grimering en gooi weg wat jy nie meer gebruik nie, asook die wat ouer as ʼn jaar is. Sommige produkte versamel bakterieë en kan selfs gevaarlik wees om te gebruik.
Kry vir jou ekstra grimering om te bêre in ‘n grimeersakkie by die kantoor of saam te dra in jou handsak. Sommige van ons het so min grimering, ons dra sommer permanent alles net in een sakkie rond!
Gebruik deursigtige naelpolitoer. Dis makliker om op te knap wanneer dit afskilfer, en dis nie nodig om so dikwels aangewend te word soos kleurpolitoer nie.
Bepaal jou klerestyl deur vir jouself ‘n plakboek of leer te maak van al jou gunsteling mode foto’s. So sal jy baie geld en tyd spaar en nie soggens sukkel om jou uitrusting vir die dag te kies nie!