TYD, is ‘n GAWE. Met ‘n bedrywige program, is te MIN tyd my grootste uitdaging!
Het jy ook “te veel om te doen”, “te veel op die mind“, en pak sommer ‘n klomp goed tegelyk aan! Ek voel dikwels, “Het ek maar net meer tyd gehad” !
Daar’s altyd spanning tussen die DRINGENDE en die BELANGRIKE.
Hoe kan ons te min tyd, of te veel tyd, beter bestuur? Deur ‘n lys te maak van wat belangrik of dringend is – die prioriteite. Dringende dinge – tydgrense by die werk, vereistes van mense, jou geliefkoosde program op TV – vervang dikwels belangrike dinge – soos afsprake met ons wederhelf, tyd met die kinders, stilte vir jouself, oefening, gesondheid.
Uiteindelik betaal jy die prys vir die afskeep van die belangrike area. En jy wonder hoekom jy die waarskuwingstekens misgekyk het. Dan help dit nie jy se “Ek het nie genoeg tyd gehad nie…”
‘n Motorongeluk het my siening oornag verander. Trauma het die manier om ‘n mens heel anders na die lewe te laat kyk, en dit te waardeer wat jy voorheen misgekyk het.
Wat die meeste WAARDE vir ons het, wat regtig BELANGRIK is – moet ons vermeerder, en die onbelangrike uitskakel.
Hoe doen ons dit?
Deur liefde eerste te stel. Goeie waardes (wysheid) is in die Bybel, soos LIEFDE wat honderde kere voorkom. Liefde bring geluk en emosionele veiligheid, veral in gesinne. Mense wat hulle loopbaan of rykdom eerste stel, is dikwels ongelukkig.
Om tyd te maak vir die geestelike. Die Bybel en Bybelse literatuur verryk jou lewe en deur dit eerste te stel, dal jy wysheid ontvang hoe om jou tyd elke dag die beste te benut.
Om op te hou uitstel en besluiteloos te wees. (“Hy wat die wind dophou, sal nie saad saai nie; en hy wat na die wolke kyk, sal nie oes nie” Pred. 11:4) Die onsekerhede van die lewe maak ons besluiteloos. Ons wag vir volmaakte toestande (perfeksionisme) of dink om eers met alle inligting ‘n besluit te neem. Hoe standaarde, navorsing en goeie nabetragting voor ‘n groot besluit is goed, maar omdat besluite dikwels met onsekerheid gepaardgaan, word die besluitneming uitgestel.
Deur ‘n balans tussen jou werk en ontspanning. Werkslawe mis dikwels die “vrug” van hulle werk. Hulle het geen tyd of energie daarvoor oor nie. Luiaards kies weer rus, en verkwis kosbare tyd. Werk hard en geniet die belonings! (Ook dit is ‘n gawe!)
Deur jou lewe te vereenvoudig. Nee te sê vir dinge wat onbelangrik is. Te veel bedrywighede en afsprake veroorsaak onnodige spanning en beroof jou van jou vreugde. As ons ekstra tyd het omdat ons werk op datum is, kan ons vooruit dink en met later se werk begin.
En dan… genoeg slaap. Slaap help jou beter konsentreer, te onthou of dinge in te neem. Te min veroorsaak ongelukke, foute en geïrriteerdheid.