My GEHEIME voet en toonnaelrate!


by Blogger – Annien Botha / Apr 15, 2016 FacebookTwitterPinterestWhatsApp Share

blog picture pedicure

Ek deel my geheime wenke na jare in die skoonheidsbedryf. Studies, ondervinding, en selfs kliënte was my leermeesters

Het ek julle al gesê.. dat my voete, na die ongeluk, vuur vuurwarm word (dit voel asof ek dit oor die kole van ‘n vuur hou!). Dit is darem nie juis ongemaklik warm nie, net eienaardig, maar my voete is ontsettend gevoelig en, buiten dat ek moeilik op klippers ensomeer loop sonder pyn, is ek in die sewende hemel as iemand hulle masseer!

Die negatief is, soos die neurochirurg dit genoem het, dat “dooie”  voete ‘n tipiese eienskap is van ‘n spinale koord besering by C6 C7.

Noetemin, my nael en voetwenke.

Gebruik ’n growwe, dik voetvyl op droë hake en sole (sonder water) om van skurwe dooie voetvel ontslae te raak (kyk vir ene by plekke soos Dreamnails of soek vir ‘n hout een). Of sommer twee goedkoop skeermesse in die bad om met vinnige ligte bewegings slegs droë, en nie gesonde vel nie –  ook om die tone –  te verwyder. Gebruik twee skeermesse – een vir elke voet, en gooi daarna weg, of maak hulle deeglik skoon. (As jy egter nie jou deuntjie ken nie, moet liewer nie self probeer nie en kontak liewer ’n voetedokter/chiropodist). Olyfolie, growwe sout en ‘n paar druppels laventel olie maak ‘n heerlike, natuurlike afskilferroom.

Smeer dan sommer Fissan paste aan –  baba se boudjies salf! – en trek sokkies aan om mee te slaap. (as jou voete natuurlik nie so warm soos myne raak nie..) Of probeer Health Glow bedags, die dun pienk roompie van Crazy Store (in die spuitbotteltjie). Dit het ‘n bestanddeel in wat die voete bevogtig. Belangrik: ‘n Dik room is nie noodwendig meer bevogtigend nie – dit hang af van die bestanddele en hoe dit deur die vel geabsorbeer kan word. Environ se Essentia Body Oil en Dermalac AHA lotion, in jou handpalm gemeng, werk ook, na ‘n tydjie, vir droë hake. Moenie ’n vogroom aanwend en in leer of plastiese sandale klim nie (dit rek jou sandale!)

Knip jou toonnaels so reguit moontlik met ’n groot toonnaelknipper om ingroei toonnaels te vermy. (Die clippers is soms in ‘n ronding gevorm, maar jy moet die naels steeds reguit probeer knip).  Behandel ingroei toonnaels deur surgical spiritus (by apteke beskikbaar) op watte, onder die nael in te druk met ‘n oorstokkie. Sny die nael in ‘n hoekie waar hy ingroei, doop dan ‘n klein watte bolletjie in die spiritus, lig die nael effe op en druk die spiritus onder die nael in, waar dit ingroei. Moet nooit weer die naels anders as net reguit knip nie.

Vyl dan die toonnaels REGUIT met heen en weer bewegings. Jy kan ook bo-op die naels vyl, veral as die naels grof is of verkleur het weens naellak. Gebruik slegs ‘n dikkerige vyl (medium grof maar nie so grof soos ‘n vals nael vyl nie –  in wit en swart by apteke, Hypermarket ens. te koop.

Gebruik Naelvlies verwyderaar (Cuticle Remover, die wondermiddel) om die vliesies te versag en ’n naelvlies knipskertjie (cuticle nipper) indien daar los velletjies is wat oor die naels groei (beskikbaar van Sally Hansen, by groot apteke).

Plaas toon verwyderaars (toe seperators) of wattestukkies tussen elke toon sodat jy die naels netjies kan verf sonder dat die tone aan mekaar raak of klad (smudge). Jy kan natuurlik nie room op die naels smeer en dit daarna verf nie.

’n Basislaag (base coat) keer dat jou naels geel verkleur van die kleur naellak maar jy kan die geel kleur mos weer afvyl. ’n Toplaag (top coat) is egter belangrik omdat dit keer dat die naellak afskilfer. Gebruik selfs jou top coat as ’n base coat! (Ek het nog nie ‘n beter topcoat as Revlon of Sally Hansen (by Clicks) s’n gevind nie.) Wend twee lae van die kleur aan en die toplaag bo-oor. Hou die verfpotjie vas in jou een hand terwyl jy verf van jou linkerhand na jou regterhand, en herhaal weer van links na regs. Indien die naellak se tekstuur te dik is (dit kan ook van lank staan gebeur), wend net een laag aan. Indien die kleur borrel as dit droog word, het jy die kleur te dik aangewend. Bêre jou naellak in die yskas om verdikking te verhoed, of verdun jou naellak met ’n druppel of twee naellak verwyderaar!

Moet nooit jou naelvliesies bedek met die naellak nie. Sorg dat die naelak mooi eindig reg voor die vliesie by die halfmaan van jou nael, en dat die lyn wat langs die vliesie loop, ‘n REGUIT lyn is. Om mooi naels te verf, kort net oefening. Versprei die kwassie van die naellak eers  in die rigting van die naelvlies in ‘n ligte beweging, en dan met ‘n harder haal met kwassie in die teenoorgestelde rigting vanaf die half maan na die punt van die nael.

Indien dit per ongeluk smudge NA jy base, kleur en topcoat aangewend het, hoef jy nie al drie lae weer van vooraf aan te wend nie. As dit nie so erg gesmudge is dat die hele nael moet oorgedoen word nie, wend eenvoudig slegs ‘n kleurlaag bo oor die nael om als “glad” te maak en dit vinnig te laat droogword, of jy kan dit selfs gladder druk deur liggies met jou vinger daaroor te druk.

Hou altyd die potjie se deksel ook aan die binnekant mooi skoon (gebruik surgical spirits indien nodig).

Die kleur van jou naellak hoef rêrig nie by jou lipstiffie of ander grimering te pas nie. Solank die kleure harmoniseer en goed lyk bymekaar.

Donker of helder kleure lyk dikwels beter op kort naels, en ligter of natuurlike kleure op lang naels.

Blink naellak vereis nie 2 lae kleur nie, maar slegs een laag, en daarna die topcoat. (Soms het jy nie eens ‘n topcoat nodig nie).

Laat jou naels vinnig droogword met droogword sproei of quickdry. Spuit die kannetjie naeldroogword sproei VINNIG heen en weer oor jou naels, of verf quickdry vinnig in ‘n dun enkellagie bo-oor elke nael.

Druk die naelvliesies terug en vryf hulle saans in met ‘n naelvliesroom (cuticle cream). (probeer ELUCTOL, wat deur die nael geabsorbeer word – boksie in blou en wit – by sommige apteke beskikbaar) as dit baie droog is of jy hulle vogtig wil hou. Gewone aquas room, miskien met ‘n druppel lavender olie in, sal ook die ding doen, en sommer ook help met jou stresvlakke!

As jy ooit ‘n fungus onder jou nael vind (dis ‘n dowwe wit stof onder die nael, wat jou naels bros maak en‘n slegte reukie afgee), kan jy dit behandel met ‘n salfie, soos lamisol van die apteek wat binne-in die intrek.

‘n Paraffin wax behandeling laat die tekstuur van jou hande en voete goed lyk maar vir my was die effek net altyd tydelik, en nooit juis langer as ‘n dag nie.

Haartjies op jou voete kan afgewax of afgeskeer word, teen die rigting van die haargroei. Jy kan ook waxstroke (wax strips gebruik – te koop by groot apteke).

Om dieselfde mooi patrone te verf soos wat hulle met Gellish nail art doen, kan jy eenvoudig gewone naellak gebruik en jou eie kolletjies en strepies verf met verskillende kleure, en topcoat daaroor aanwend. Dit sal nou wel nie so lank hou as die ware Jakob nie maar darem vir ‘n paar dae. Gellish, by salonne alleenlik (of probeer Ralo cosmetics) word op naels geverf as jy wil hê die kleur moet langer as normaalweg hou en nie sommer afskilfer nie, en hou ook maar slegs 2 weke lank.

Sekere mense hou ook van die Franse pedikuur op die voete, wat baie natuurlik vertoon. In hierdie geval sou ek waarskynlik gellish laat aanwend. Probeer iets anders, soos ‘n Franse pedikuur waarvan die strepie by die punt van die nael helder pienk geverf is, of een van my gunstelinge – helder pienk nales geverf met WIT franse pedikuur strepies!

Jy benodig ’n pedikuur 1 x per maand, of selfs 1 x per week of elke 6 weke, afhangende van die toestand van jou voete. As jy geld wil spaar, tyd en geduld het, doen dit self by die huis.

‘n Lekker masseerbeweging vir voete is om jou maat te vra om jou voet in albei hande te vat en die linker en regter deel van jou voet alternatief vorentoe en agtertoe te wikkel of los te druk.

Jou voete is ‘n baie belangrike hulpmiddel in jou stapproses. Vra my. Om jou te help stap, of mooi te stap, help nie net jou bene nie maar ook jou voete baie!

Ek besef dat ek met my dooie voete baie baat by Reflexologie sal vind, net soos by die voetmassering met my voetmasseermasjien. Reflexologie is die behandeling by ‘n salon of gesondheidsentrum wat sekere punte van die voet verbind met sekere areas of organe in die liggaam. Deur te werk (met vinger drukking) op hierdie punte het dit dan ook ‘n ontgiftings of genesende uitwerking op die orgaan van die liggaam wat met die punt verbind word. Of, medies gesproke, het dit ten minste ‘n effek op die senustelsel van die liggaam (talle senuwees lê in die voete) en ontspan dit jou liggaam. Ek het al op iemand se voete gewerk en op hierdie manier ‘n probleem in sy RUG opgetel! (Dit het gebleik dat hy toe sowaar rugprobleme het en kon nie per toeval so wees nie!). Shiatsu is nog ‘n behandeling waarvolgens daar ook op jou voete gewerk kan word,  waar al die sg. energielyne van jou liggaam eindig. ‘n Voetmasjeer masjien (of Shiatsu drukpunt masjien) moet van goeie gehalte wees met ‘n STERK vibrasie (pasop vir die gimmicks by sekere winkels!). Die goeie soort is nie volop te vind nie. Probeer die internet. Hierdie masjiene doen myns insiens, plus minus als wat ‘n reflexologie behandeling jou besorg, so dit is ‘n bate om een aan te skaf! Jou voete kan aanvanklik seer wees om op te werk, maar dis dan juis goed om die pyn te verduur ten einde resultate te verkry, en jou pyn sal mettertyd verdwyn.

Jy kan hierdie eenvoudige pilates oefeninge by jou huis vir jou voete doen. Draai jou een voet eenvoudig vorentoe na jou toe, en draai dan na regs kloksgewys in die ronte ‘n paar maal. Doen dan dieselfde na die ander kant. So ook met die ander voet. Vir mense soos ek, en ook ou mense wat nie net stywe bene kry nie maar selfs ook al stywe voete, is hierdie biokinetikus oefening goed. Loop op jou tone rond in jou huis (moet net nie val nie!) en dan op jou hake.

Selfversorging kos tyd en geduld en betoon selfs respek teenoor jou naaste. Mense sien dit tog raak, en al sien niemand dit raak nie, voel ‘n mens  om een of ander rede goed as jou voete mooi lyk! ++

Laat my gerus weet as jy wonder oor enige iets anders! Indien dit privaat is kan jy my email by annienatpeace@gmail.com

Blog op http://www.voelgoed.co.za/blogs

Published by Health & beauty

As former international Beauty and Spa therapist, Annien motivates and gives advise on body mind soul and spirit

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: