by Blogger – Annien Botha / Apr 05, 2016
FacebookTwitterPinterestWhatsApp Share
My lewe as ‘n tetrapleeg wat weer moes leer loop, eet, tandeborsel, stort, bad, skryf en piepie – is ‘n avontuur wat ek niemand toewens nie.
Vier jaar gelede het ek my nek gebreek. Die spinale koord besering het my gelaat met chroniese pyn en onbeskryflike styfheid – soos ‘n ou mens wat nog altyd ‘n sittende lewe gelei het met geen oefening of gesonde eetgewoontes nie. Die besering maak dat ek tien jaar ouer voel as my ouderdom in plaas van tien jaar jonger soos tevore. Dit terwyl ek tot op 47, behalwe vir ‘n slegte gewoonte of twee,‘n aktiewe leefstyl en gesonde dieet gehandhaaf het. My senuwee sisteem is beskadig wat die styfheid veroorsaak. Dis moeilik om vooruit te beplan want ek weet nooit of ek môre ‘n goeie of slegte dag gaan hê nie.
Ek LYK op die oog af normaal – asof ek nog kan hardloop, spring, buig, hurk, dans, tennis, klavier en ghitaar speel, terwyl dit nie die geval is nie! Tog word normale verwagtinge aan my gestel soos vantevore.
Iemand anders sal sê, ‘ten minste LYK jy goed! Jy’s gelukkig jy kan LOOP!’ En ek wil sê, ‘’maar wat dan van die PYN? Wat dan van die feit dat ek nie meer ‘n “wat jy sien is wat jy kry” persoon is nie!’
Ek troos myself gedurig dat ek nie ALLEEN is nie – dat daar talle is met siektes soos kanker, of onbekende kwale wat ‘n ander tipe pyn of komplikasies veroorsaak maar ook ONSIGBAAR is, of emosionele pyn, wat vir die buitewêreld weggesteek word. Hoe hanteer ons DIT, sonder bitterheid, selfbejammering of die soeke na bejammering van ander?
As iemand die antwoord het, laat my weet.
A hero is an ordinary individual who finds the strength to persevere and endure in spite of overwhelming obstacles. -Christopher Reeve
-
Blogger – Annien Botha
As internasionaal gekwalifiseerde skoonheidskundige, spaterapeut en huishoudkundige skryf Annien oor SKOONHEID en GESONDHEID op alle terreine. In 2012 was sy betrokke in ‘n ernstige motorongeluk wat haar beroep as terapeut na 20 jaar beëindig het. Sy het egter besluit om te bly skryf en blog in haar beroep. Sy inspireer met haar eie gedagtes, dade en lewensverhaal sowel as die van mense rondom haar.
http://www.voelgoed.co.za/blogs (Voorkoms)