GESONDWEES IS ‘N BESLUIT!
Sommige mense word gesonder gebore as ander. Maar dit beteken nie die ongesonder-geborene kan nie alles in die stryd werp om selfs langer as die gesond-geborene te leef nie! Ek vergelyk dit met ‘n dennehout stoel en ‘n eikehoutstoel. Die eiekehoutstoel is sterker as die dennehoutstoel.Maar as ‘n mens ‘n eiekehoutstoel buite in die reen laat staan, watter stoel gaan eerste tot niet gaan – die eiekehoutstoel. So as jy met ‘n ongesonde liggaam na jouself kyk, kan jy selfs langer leef as die gesonder ene wat oor die lange duur sy liggaam afskeep.
Hoe bly ‘n mens gesond? Daar word soveel gepraat oor wat gesond is en wat nie dat selfs ingeligte mense later nie weet wat die feite is nie! Boonop speel die advertensiemedia ‘n groot rol in ons lewens, en is daar soveel maatskappye wat miljoene rande wins maak uit dieëtaanvullings en ander gesondheidsfoefies, dat ons toegegooi word met halwe waarhede en selfs hele leuens. Dokter Francois Retief volg ‘n wetenskaplik-gefundeerde benadering en hier is sy basiese LEWENSTYL VOORSKRIF :
1. Volg ‘n ontspanne lewensbenadering: Moenie jou gedagtes op loop laat gaan nie, dissiplineer jou denkwyse, moenie jou bekommer nie, wag eers om te kyk waarvoor jy moet skrik, en skrik DAN as jy wil. (“ReLAX!” Moenie paniekerig raak wanneer dinge dol gaan of wanneer jy moet prioritiseer nie. vra die Heilige Gees om jou jou volgende besluit te help neem)
2. Sorg dat jy genoeg slaap. Sommige mense het meer slaap nodig as ander – ken jouself. Gee jou brein kans om af te skakel vir ‘n goeie nagrus. (Gebruik ‘n natuurlike kalmeermiddel soos ‘n koppie Chamomile tee of lees ‘n boek/die Bybel voor jy gaan slaap)
3. Skaterlag gereeld. (ek hou van die comedy kanaal op DSTV en skaterlag gedurig op my eis)
4. Moenie rook nie!!! Moet geen dwelms of onnodige medisynes inneem wat jou breinfunksie beïnvloed nie (soos slaappille, opkikkers, stimulante en alkohol). (ek probeer hard om my een pyntablet af te skaal!)
5. Vermy heeldag sit en die verkeerde liggaamshouding. (Doen ‘n paar strek/veral pilates oefeninge/staan op en stap rond tussen rekenaar sessies! Sit by ‘n tafel en stoel met die regte hoogte)
6. Fisieke aktiwiteit vir al jou spiere is belangrik. Doen oefening, verkieslik aerobiese aktiwiteit (stap, swem, draf, fietsry ens.) sowel as kragwerk (“gewigte”). Laasgenoemde kan in ‘n gimnasium gedoen word, of tuis gedurende jou dagtaak (bv met babas en kleuters optel; supermark-inkope en kosvoorbereiding; swaar voorwerpe hanteer gedurende nutsmanwerk). Sit en swaai handgewigte terwyl jy nuus kyk op die tv. Alle bietjies help en selfs min aktiwiteit is beter as geen aktiwiteit. Moet dus nie lê as jy kan sit nie; moenie staan as jy kan stap nie; parkeer die motor verder weg en stap na waar jy wil wees; stap werk toe; neem die trappe in plaas van die hyser of roltrap!
DIEETVOORSKRIF – vir algemene gesondheid, dermkanaalprobleme, voorkoming van hart- en bloedvatsiekte, diabete, mense wat gewig wil verminder. Daar is slegs in uitsonderlike gevalle (soos bv. glutensensitiwiteit) spesiale dieëtvoorskrifte:
1.Eet stadig
2. Maaltye moet ontspanningstye wees
3. Moenie laat saans eet nie
4. Moenie op ‘n vol maag gaan slaap nie.
5. Eet kos as jy honger is en drink water as jy dors is.
6. Die hoeveelheid kos wat jy inneem is belangrik:
Nie te veel protein – 1 porsie van 1 tipe protein per dag. (buiten kinders wat meer nodig het vir groei en weefselbou)
Nie meer as 3x per week rooivleis
STYSEL moet die basis van jou dieet vorm, nl. koring, mielies, hawermout, sorghum, growwe rys, aartappels–in die skil verkieslik, nie gebraai of in olie gebak)
Eet 6 gekookte of gestoomde groentes en /of slaaigroentes /dag – ‘n verskeidenheid hiervan is belangrik (groente belangriker as vrugte)
2-3 vrugteporsies /dag
NO-NO’S!! Bly weg/beperk:
Suiker en soetgoed, soos konfyt, lekkers, sjokolade, vrugtesap en koeldrank
Fyn meel soos wit brood, wit rys, fyngebak, koek ens.
Speserye, Worcestersous, tamatiesous en soorgelyke geurmiddels
Koffie
Kos met versadigde vette, soos:
Diepgebraaide kos
Verwerkte vleis soos salami, polonie, spek, frankfurters, weense worsies, ens.
Sout, soos in die bg. kosse
Pille, kapsules, “shakes” en groente-en vrugtesappe is nie noodwendig gesond nie
Lees die volle redes vir bg. voorskrif in die blog van dokter Francois Retief hieronder (in: Hoe bly ‘n mens gesond? 26 Augustus 2009)