Ek vra myself dikwels hierdie vraag wanneer ek soggens opstaan. Julle weet dat ek soggens met pyn opstaan. Soveel so dat ek soms die wekker net dooddruk en bly lê en dikwels daarna verslaap. Ek staan dan traag op, klim in ‘n sweetpak (soms nog met pajamas onder) en kry die kinders reg vir skool. Wanneer ek terugkeer huis toe en uiteindelik die dag in die oë staar, vra ek myself hierdie vraag. Vir wie of vir wat wil ek vandag op my beste lyk? Mense sal dikwels antwoord: “Vir jouself!”- nie meer om man te probeer vang nie. Of jou maters jaloers te maak omdat jy met hulle kompeteer nie. Maar net vir jouself. As ek darem dieselfde aandag aan myself kon gee as wat ek in ander areas van my lewe insit.
Ek herhaal dikwels my ongeluk want ek het baie daaruit geleer, en ek wil hê jy moet ook leer daaruit. Vir MY is dit selfs moeiliker as vir jou om elke dag op my beste te lyk. Want dit is vir my onbelangrik hoe ek lyk maar eerder belangriker hoe ek voel. As ek tog net een dag sonder pyn kon opstaan! Ek voel steeds dikwels soggens – vir wat moet ek mooi aantrek – ek is selfs nie lus vir stort nie. (Dit is deels natuurlik as gevolg van depressie oordat ek met pyn moet opstaan).
In die hospitaal is my optoffery skielik van my weggeneem. Ek is gewas in die bed, of was van ander afhanklik om my te help stort. My tande is VIR my geborsel, of soms sommer glad nie geborsel nie. Skielik het “om mooi te lyk” vir my geen waarde meer gehad nie. Van die eerste openbaringe wat ek gehad het, is dat ‘n mens se identiteit nie lê in jou gawes (of bates) nie want dit kan oornag van jou weggeneem word.
Volgens die Bybel is dit duidelik dat ons ons identiteit in Christus moet vind. Het jy al die rykmanskinders se gespoggery met hulle klere, motors en someer op sosiale media aanskou? Wie jy is, word ongelukkig nie bepaal deur die klere wat jy dra of die kar waarmee jy ry nie. Ons dink dalk dat mooi klere of ’n nuwe haarstyl ons heel gaan laat voel, maar dit is net by God waar ons tevredenheid sal vind. Hierdie wêreld is van verbygaande aard.
So hoekom kies ek my vleiendste kledingstuk uit die klerekas..sit my mooiste bygaande juweelstuk aan? Ek motiveer myself hiermee..
Wanneer ek op my mooiste lyk, is ANDER se persepsies of reaksies teenoor my meer positief, en as gevolg hiervan, raak EK meer positief! Ek VOEL dan sommer beter. Dit is terloops ‘n sielkundige beginsel dat jy stukke beter voel as jy jouself mooi aantrek en grimering aanwend voor jy die nuwe dag tegemoet gaan, want dan tree ander meer positief teenoor jou op. Ons vrouens is bevoorreg, want ons kan “maskers”elke dag opsit – ons kan grimering aanwend en ekstra mooi bekleedsels. Ons kan baie dinge verberg deur middel van ons klere en bykomstighede!
Tog is daar die van julle wat julle naels gaan laat doen, of in ‘n nuwe rokkie uitdraf, en manlief sien dit nie eers raak nie, en jy hoor selde ‘n kompliment. So waarom moet jy dan mooi aantrek?
DOEN DIT VIR GOD
In bogenoemde geval beteken dit nie dat jy glad nie na jou gesondheid en voorkoms moet omsien nie. Jou liggaam is ’n tempel van God se Gees. Jy MAG trots wees en MOET trots wees op jou voorkoms! Moet asseblief nie dink dat jy ydel is omdat jy mooi wil aantrek nie. Om God te aanbid, om Hom te dien, nie sonde te doen nie (NEE te sê vir sonde) – is vir hom ‘n GAWE, dit is jou offergawe aan hom.
What you are is a gift of God. What you become is your gift TO God.
GESOND LIEF VIR JOUSELF EN SELFVERTROUE
Dwarsdeur die hele Bybel kom die beginsel van “nederige selfvertroue” of “humble confidence” voor. ’n Christen moet nederig wees, maar het tog ook die titel “kind van God” en kan daarom selfvertroue hê. If you don’t have God, you are nothing. Liefde vir jouself is belangrik. God het jou tog geskape en dit was vir Hom goed.
‘n Gesonde selfliefde is nie selfbehep, arrogant of selfgesentreerd nie.
As jy nie dink jy is mooi nie gaan niemand anders so dink nie. Kyk in die spieel en sê: ek is nie ydel nie maar ek is mooi want God dink ek is mooi (dink oor wie en wat jy in hom is). Ek weet en ek sê ek is mooi, want God het my mooi geskape. Ek is nie ydel en arrogant nie maar ek weet wie ek is in (of as gevolg van) Christus. Ek is ‘n kind van die mees heiligste god. Maak nie saak hoe ek lyk of wat ek het nie, ek kan nooit lelik voel as ek weet wie ek in Christus is nie. Ek het nederige selfvertroue maar ook ’n VET selfvertroue, want dit is nie uit myself nie maar van God. Ek het ‘n BUIGBARE, AANPASBARE, LEERBARE selfvertroue.
Selfversorging en selfkennis kan enige vrou in ’n prinses verander. Al wat jy moet doen, is om jou unieke bates te beklemtoon Liesel Krause-Wiid
NIE TE LIEF VIR JOUSELF
Tog is dit ‘n kuns dat jy ook nie so moet behep raak met jou voorkoms dat jou wêreld in duie sal stort as dit weggeneem moet word nie. Moenie so lief word vir jouself dat jou voorkoms ’n obsessie word nie. Enige iets wat TE is, moet jy terloops pasop voor…. So was ons dalk as tieners, maar wees versigtig vir té bewus raak van jou klere. ‘n Obsessie met jou gewig, voorkoms en klere is nie gesond nie en kan jou selfs in ‘n put van depressiwiteit laat sink. Met my jare lange ondervinding as skoonheids terapeut en die werk met vroue, het ek gevind dat talle vroue wat onder die mooiste vroue tel, die onsekerste van hulleself is..wat onnodig ’n negatiewe beeld van hulleself het en vreeslik krities oor hulle voorkoms is.
HELP ANDER MET JOU SKOONHEID
Vroue en mans kan hulle skoonheid GEBRUIK om die wêreld te verander. Neem maar net ons huidige Mej Wêreld as voorbeeld! Of selfs die gewese Oscar Pistorius! Skoonheid kan op goeie of minder goeie maniere ingespan word. Mooi vroue in die Bybel, soos Delila en Ester het hulle skoonheid op verskillende maniere gebruik. Delila het Simson verlei en dit het uiteindelik sy dood veroorsaak. Ester het as GEVOLG van haar skoonheid die koningin van Persië geword. Dit is ’n posisie wat sy glad nie wou hê nie, maar sy waag haar lewe om haar volk te red. Sy was gewillig om haar lewe op te offer om ‘n nasie te red. Jy kon jou lewe verloor as jy die teenwoordigheid van die koning betree het sonder uitnodiging. Maar sy’t dit met geloof en hoop gedoen. Die koning probeer oorreed. En so het sy haar hele volk gered..Eerstens was sy in God se guns en toe in die van die koning. Hierdie optrede van haar is ’n voorbeeld van selfopoffering, van die soort liefde waarvan die Bybel praat. Jesus het ook in ’n daad van onselfsugtige opoffering sy lewe vir kinders van God gegee.
DIE REGTE HART EN GESINDHEID
Onthou: God kyk nie na wat jy doen nie, maar na jou HART. So moet ons ook na ander kyk – na watter hart die persoon het – nie na hoe hy of sy LYK nie. En ‘n persoon se hart manifesteer deur sy tong – wat hy sê.
Heart determines attitude, and attitude altitude.
Nie net skoonheid nie maar ook die regte gesindheid is belangrik. Ons moet nie kyk na die fisiese nie maar ook na ander se gesindheid. Wat jy sê en doen, en wat jy sê en nie doen nie, is jou gesindheid. Jou HART bepaal jou GESINDHEID en jou GESINDHEID bepaal hoe hoog jy kan gaan. Daar is talle wat godgegewe gawes het soos welsprokenheid, sjarme of charisma, maar dit misbruik om ander te manipuleer of te beheer. Hulle het ‘n gesindheid van ONTVANG of WIL HÊ. Ons moet eerder die gesindheid nastreef van GEE, van buigbaarheid, aanpasbaarheid, leerbaarheid en nederigheid.
Buigbaarheid en aanpasbaarheid
Jy kan VERANDER om by enige moeilike situasie aan te pas. Jy kan jou planne in ‘n baie kort periode verander. Jy gaan saam met jou vriende na ‘n restaurant in Kaapstad. Een van jou vriende kom met die idee van ‘n spesiale aanbieding op seekos in Durbanville. Jy word AANPASBAAR in die planne. Jy is nie RIGIED in jou planne nie.
Leerbaarheid
Jy het ‘n gees van LUISTER en die aanvaar van leringe wat goed is vir jou maar wat afkomstig is miskien van diegene minder as jy. Jy WIL leer.
IS JY ‘N VOORBEELD VIR JOU KINDERS?
Nog ‘n belangrike rede hoekom ek mooi wil aantrek – ek trek aan vir my kinders! Om te hoor, “Mamma lyk moo-ooi”, is die soetste woorde! Ek dra graag iets wat my kinders laat dink hulle’t ’n “cool” ma.. en hang dikwels sommer ‘n speelse kinderketting om my nek, of hang pienk oorbelle aan die ore..net ter wille van my dogtertjie.. Jy as ma se voorbeeld vir jou dogter is belangrik. Dink oor wat jy aantrek, want jou kind volg jou voorbeeld. So dikwels kom ek uit my kamer gestap en vind my dogtertjie het ook blou gaan aantrek want ek het die oggend blou aan! Dit is dan ‘n groot kompliment vir my! Of wanneer my dogter haar eie kleertjies met selfvertroue aandra in die winkel, en ek bekyk die kleertjies en besef.. hierdie dogtertjie van my het styl (my styl!) (Maar dan trek sy ook soms ‘n mini aan oordat haar ma dan ene dra!). Ek lees van ‘n celeb wie se kind so’n “mode voorlopertjie” is. Jy is die ene wat jou kind moet leer om nie homself of haarself met ander te vergelyk nie, maar om sy of haar eie styl te ontwikkel. Laat hulle gerus toe om hul eie uitrusting vir die dag te kies! ’n Kompliment van haar pappa oor haar pragtige styl kan die wêreld vir ’n dogtertjie beteken. Al is julle as ouers geskei en jy sien jou dogtertjie nie so gereeld as wat jy wou nie, onthou, as sy weet sy’s jou prinses, kan dit wondere vir haar selfvertroue beteken.
WEES “JY”
Al volg jy die mode, of beter nog, al sorg jy dat jy elke seisoen ten minste een iets van die nuwe mode jou eie maak, hou in gedagte dat jy besonders is en jou uniekheid moet uitbeeld. Jy moet nie jouself met ander vergelyk nie. Wanneer ons iemand anders probeer naboots of wees, onderduk ons onsself en God se krag in ons! Moenie iemand anders se droom probeer leef nie, want jy beperk net jou eie potensiaal.
TREK ORDENTLIK AAN
Lyk jy “ordentlik?” Voel jy GEMAKLIK met jou uitrustings en trots op jouself? Dink jy jou man, jou kinders, geestelike mentor of selgroeplede voel gemaklik daarmee en is ook trots op jou? Ek onthou na die ongeluk aan die begin van my rehabilitasie tyd, die ongemaklike insident met my pa – hoe hy my gevra het om my hipster denims op te trek oordat my “broeke altyd te laag sit”! As jy gedurig ’n rompie moet aftrek oordat jou bene te veel uitsteek of jou toppie moet aftrek omdat jou magie uitsteek, of selfs ‘n langbroek moet optrek omdat jou onderklere uitsteek, moet dit klaar al vir jou ’n teken wees dat wat jy aanhet, nie gepas is nie.
KYK SOGGENS VIR JOUSELF IN DIE SPIEËL
Soveel dae verloop wat ek net mooi nooit na myself in die spieël kyk nie! Maak ‘n gewoonte daarvan OM VIR JOUSELF IN DIE SPIEEL TE GLIMLAG! Wees lief vir die vrou in die spieël. Aanvaar komplimente met grasie, en GLO dit. Die ander dag loop ek een van my skoolvriendinne raak, en sy sê, “Jy lyk MOOI!” Jy is altyd so GOED.. VERSORG!” Dadelik het ek gedink, “Ja ja…Take it from who it comes..” Maar toe besluit ek, ek gaan dit TOG glo..Sien, mens maak wel ‘n indruk op IEMAND!
Bron: Voelgoed.