Dit is vroeg in die jaar en ek het alreeds deur die genade van God ‘n skielike stukkie wysheid en openbaring ontvang om ‘n nuwe gesindheid en beskouing oor my neuropatiese pyn wat ek met behulp van pyn medikasie probeer onderdruk, in te neem.
Dit is twee en ‘n half jaar sedert my motor ongeluk (waarin ek ‘n spinale koord en rugmurg besering opgedoen het en my nek gebreek het), ek was weer op moedverloor se vlakte van selfbejammering en frustrasie omdat ander mense, selfs diegene naby aan my, nie altyd begryp dat hoe ek van BUITE lyk nie regtig ‘n ware weerspieëling is van hoe ek BINNEKANT van die pyn deurgaans deur die dag ly nie.
Met die uitdrukking van my dikwelse abnormale stywe rug plus rug en hand pyn, kry ek soms reaksies soos “Wat’s dit NOU al weer?” en moet ek die persoon herinner van my ongeluk. Ander dink dikwels dat ek sekerlik darem NOU al genees moes wees! Maar sien, God genees op verskillende maniere. Sommige mense genees Hy EENSKLAPS, vir ander is dit ‘n PROSES – van vasberadenheid om met GELOOF AANHOUDEND te bid of vir jou te LAAT bid vir jou genesing…om te sien of jy die TOETS van VOLHARDING IN GELOOF slaag. God bly jy nog “siek” maar dit bou jou KARAKTER. Jy moet van LIGGAAM, SIEL EN GEES genees, en dikwels vind herstel nog plaas in die ander aspekte van jou genesing. Jy moet van liggaam, siel en gees genees. “Julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle GEESTELIKE RYPHEID kan kom, sonder enige tekortkoming.” (Jak 1: 3-4). God is ons skepper en sy genesing is uiteindelik altyd volkome. “…dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil. 1:6), wanneer ons weer volmaakte liggame sal hê sonder gebreke, onvermoë en pyn.
Deur middel van twee boeke en die internet het ek die volgende kennis met betrekking tot BREINBEHEER deur die genade van God ingewin.
Dit is nie die REALITEIT oor jou pyn wat jou depressiwiteit veroorsaak nie, maar eerder die MANIER wat jy die realiteit BESKOU. As jou gedagtes oor jou pyn uitermate PESSIMISTIES is, help dit jou nie en sal jy die pyn erger ervaar (en jy minder in staat wees om ‘n vervullende lewe te lei).
Die probleem is dat ons ons almal VERGELYK met mense wat “beter af” is as ons, mense wat ryker is, mooier, met meer vitaliteit en fikser, sonder gebrek – en PYNLOOS. Deur te glo dat jy alleen is, en soort-van “uitverkies is”, maak dat jy al meer ellendig voel, wat dan weer jou sensasie van pyn verhoog. Jy moet jou liewer vergelyk met die miljoene (een-vyfde van die die wêreld se populasie) wat chroniese pyn ervaar en waarvan daar diegene is wat nie toegang tot effektiewe pyndempers het nie! Almal lei onder akute pyn van tyd tot tyd. So jy ly definitief nie ALLEEN aan pyn nie en is NIE onregverdig uitverkies nie!
Om ‘n SLAGOFFER te voel (wat ‘n ONREG aangedoen is) sal net jou fisiese en emosionele pyn verhoog. Die probleem met ETIKETTE is dat hulle geneig is om permanent vas te steek. As jy eers jouself sien as ’n “invalide” en OPTREE soos een sal jy ander mense toelaat om op hierdie manier op jou te reageer. Jy moet ophou aan jouself DINK as ‘n “invalide” of so iets, en ‘n OPTIMISTIESE uitkyk inneem.
Dit laat my nou wonder… Ek tree soms op as ‘n “invalide” omdat ek myself rêrig bejammer en ander bewus wil maak van my toestand, maar meestal tree ek heeltemaal “normaal” op en dit breek my – die beeld wat ek voorgee van iemand wat “normaal” is. Ek bewonder my sterk gees maar wonder dikwels hoe lank gaan ek dit volhou voordat ek knak. Ek lag met ‘n traan oor die gesegde wat ek aangeskaf het “Pretending I am a nice person day after day is exhausting”! Mense verwag meestal dat ek normale aktiwiteite soos hulle verrig – die wat my situasie ken behandel my meestal positief en met respek maar die wat dit nie ken nie, bitter onverdraagsaam…is meestal totaal onbewus van wat met my gebeur het of die pyn wat ek ervaar. Dit was tot nou toe seker my grootste frustrasie. Die verwagtinge, ook soms van diegene naby aan my, wat aan my gestel word om “by te hou” net soos hulle…aan die gewone menslike standaarde te voldoen (terwyl ek weet as dit nie vir God is nie, kan ek niks doen nie).
Skynbaar moet ek liewer aan myself dink as “die professionele blogger”, “die opkomende internet bemarker en tydskrif joernalis”, “die skrywer”, “die byderwetse enkelma wat by die skooldinge kan bybly”, “die persoon wat dag na dag beter raak” of watter oulike titel my ookal pas! Ek moet vir myself sê “ek is nie gebrekkig nie, ek kan weer met hierdie regterhand probeer doen wat ek voorheen daarmee gedoen het” (PS. My regterhand is swak en trek styf van spasmas en naalde prikkels omdat senuwees van my nek na die hand beskadig is).
Instede daarvan om jou behandelings as aansienlik effektief te sien, sien ‘n mens dit dikwels as totaal oneffektief en jou dokter is of briljant of hopeloos! ‘n Mens moet nie fokus op die tekortkominge nie maar net op die VOORDELE. Jy is nie VRY VAN PYN of andersins in PYN ANGS EN WORSTELING nie! Die ware lewe – niemand en niks – is PERFEK nie. Die lewe is in skadus van GRYS. Jou medikasie mag dalk net tot ‘n MATE werk, dokters maak ook foute. Al bly jy steeds oop vir die moontlikheid van beter behandelings, moet jy aanvaar dat geen behandeling PERFEK is nie.
OORDREWENHEID werk ook nie, soos om te sê “Dit is die ergste pyn wat enige iemand nog ooit ervaar het”,” Ek kan niks doen as gevolg van my pyn nie”, of “Hierdie pyn het beheer geneem oor my lewe”. Ons almal oordryf.
Ek het selfs rede om te kan oordryf. Daar is geweldig baie (sommige klein) aanpassings wat ek moet maak. Ek kan nie hardloop nie, nie spring nie, nie dans nie, nie lank staan nie, ek sukkel om op te kom as ek plat sit, om te gaan sit as ek lank staan, sukkel om te buk, kan nie vir iemand met my regterhand waai nie, sukkel om ‘n kettinkie om my nek vas te maak of oorbelle aan te sit, om knope en my dogtertjie se hare vas te maak, dikwels te veel pyn om die kinders te vertroetel en hul ruggies te vryf (soek eerder dan self vertroeteling), kan nie na agter oor my regterskouer kyk nie, moet by winkel sentrums en funksies altyd naby kleedkamers wees, en voel soos ‘n “krok”, of ‘n bejaarde. Ek kan nie meer skoonheids terapie behandelings doen as gevolg van my regterhand nie, nie meer klavierspeel nie, geensins meer speel op my kitar nie, dus nie meer op die verhoog staan en sing nie, nie meer lank staan en klasgee nie, nie meer ure as bestuurder of verkoopsdame van ‘n klere of ander winkel staan en werk nie. (PS. het probleme met balans en rugpyn en die senuwee na die hande en voete is verkort).
Wanneer jy egter oordryf oor jou vlak van pyn en die gevolge wat dit vir jou lewe inhou dan praat jy jouself in ‘n negatiewe toestand wat slegs dinge erger kan maak. Daar is hope dinge wat ek KAN doen gedurende my min-pyn episodes, of die tye wat ek besonders gelukkig voel!
‘n Mens moet nie spring na NEGATIEWE gevolgtrekkings of voorspellings nie. Ek moet ophou sê of dink “ek sal nooit hierdie kan baasraak nie” of “iets verskrikliks is verkeerd”, of “ek sal nooit kan funksioneer sonder hierdie pille nie”. Boonop werk alles vir ons Christene “ten goede mee”, en die meeste dinge draai veel beter uit as wat ons verwag.
Leiding kan beëindig word deur LOSMAAK. Deur jou LOS TE MAAK van pyn. Om dit waar te neem en te aanvaar sonder om daarop te REAGEER. Dit beteken nie jy doen niks om jouself te help nie, maar net dat jy nie jou emosionele toestand (en dus jou pyn) erger maak deur bitter en negatief te voel nie.
‘n ONTSTELLENDE GEDAGTE soos “Ek kan nooit weer myself geniet as gevolg van hierdie pyn nie” of “Ek is ‘n vreeslike ouer as gevolg van hierdie pyn” is net ‘n gedagte en nie die ding self nie, plus is dalk nie eens ‘n akkurate waarneming nie. Hierdie onaangename gedagte kan jou verleë, angstig, vreesagtig, hartseer en selfs depressief laat voel, en sulke emosies vererger dan terselfdertyd pyn en veroorsaak ander fisiese probleme.
Ek bekommer my dikwels oor die OORSAAK van my pyn (WAAR my nek gebreek is, WAT nou in my nek aangaan), of wat die toekoms vir my inhou, en voel ontsteld en kwaad oor die onregverdigheid daarvan. Wanneer pyn en sulke gedagtes deur jou kop maal neem jy skaars kennis van wat om jou aangaan en jy mis uit op al die dinge wat jou altyd plesier verskaf het.
My openbaring deur die genade van God was dat ek my geestesgesteldheid moet OMSWAAI.
INSTEDE DAARVAN DAT JOU PYN ALLES ANDERS MOET VERDRING, MOET JY ALLES ANDERS GEBRUIK OM JOU PYN TE VERDRING!
‘n Mens moet EEN dag op ‘n slag bly leef – leef IN DIE OOMBLIK. deur te FOKUS OP DIE OOMBLIK sodra ontstellende gedagtes oor jou pyn by jou opkom. Dinge BELEEF. Dinge gebeur maar ons onthou dit skaars omdat ons dit nooit rêrig beleef het in die eerste plek nie! As jy oplettend is en aandag skep aan die klein dingetjies word alles meer interissant, meer bevredigend en meer kragtig – en meer instaat om jou pyn te verdruk. Dit is nie nodig om ‘n klomp verskillende dinge te hê om te doen nie. Jy kan net stil sit en na die wolke kyk wat verby sweef. Maar wat dit ookal is, ‘n mens moet seker maak jy is heeltemaal gefokus daarop. Jy moet kyk of jy in die huidige oomblik is, andersins jou gedagtes op halt sit en vyf minute spandeer om ten volle dinge rondom jou te ONTDEK deur jou sintuie te gebruik. En hierdie tegniek oefen totdat dit ‘n gewoonte vorm.
Dit wys vir jou hoe kragtig ‘n mens se VERBEELDING is en hoeveel skade dit kan aanrig. Dit is waarom jy jou brein moet begin beheer. Niks daarmee verkeerd dat jy aanhou daarmee om vreugdevolle afgelope gebeure te herleef, uit te sien na toekomstige gebeure en wonderlike nuwe fantasieë te skep nie. Deur aan AANGENAME DINGE TE DINK aktiveer jy dan ook die dopamine sisteem in jou brein soveel as wat jy werklik die ding DOEN. Jy mag maar aanhou met gelukkige herinneringe, verwagtings en dagdrome, die dag wat jy getrou het, ‘n vakansie wat voorlê, ‘n fantasie oor jou en iemand tot wie jy aangetrokke voel!..
Jy moet jou verbind aan aksies wat jou lewe kan verbeter en aksies wat skadelik is vermy. Skadelike pyn vermindering strategieë om die pyn te probeer ontduik is byvoorbeeld alkohol en kalmeermiddels wat net angstigheid kan vermeerder, inmeng met jou medikasie en verslawing veroorsaak. Eet vir vertroosting is ook een van hulle en waaraan ek skuldig is!
Sekere tipes pyn word deur die brein, of spesifiek die onderbewussyn veroorsaak, vererger of verleng omdat daar ‘n siel-liggaam konneksie is. Al word die pyn miskien wel veroorsaak deur ‘n vermindering van suurstof na die weefsels wat betrokke is, kan die ONDERBEWUSSYN ook bloedvloei na die weefsels inhibeer. So jou rugpyn byvoorbeeld kon wel ontstaan het in die brein. Jy kan liewer dinge begin sê soos “Ek het ‘n normale lyf. Die fisiese abnormaliteite wat gevind is is eenvoudig normale veranderinge geassosieer met aktiwiteit en veroudering”.
Indien jy voel dat jy nêrens kom met jou pyn strategieë nie of dit werk nie of kos dalk te veel, is een van bogenoemde strategieë dalk die manier vorentoe.
MY NUWE GESINDHEID
Ek IGNOREER my pyn en probeer fokus op die ander normale vereistes van die dag of iets waarmee ek kan ontspan, al is dit om ‘n tydskrif te lê en lees.
Ek parkeer met opset verder met my motor en gee nie om om ‘n lang end kiertsregop te stap nie (al is dit in pyn), en ek probeer weer soos ‘n model “op een lyn” stap met HAAK NA TOON, soos vantevore.
Ek probeer alle afsprake betyds nakom, en hou met twee dagboeke vir skool en persoonlik of op my foon bybly met alle skool aktiwiteite en afsprake (waar ek gewoonlik stadig en “buite beheer” voel weens pyn)
Ek probeer my elke dag mooi aantrek en lyfroom aansmeer, en my met juwele en grimering en ‘n glimlag versier.
Ek praat nie meer soveel oor my pyn nie.
Ek leef steeds “in die oomblik” deur elke oomblik waar te neem en te geniet.
EK herinner myself “Hierdie klomp pille is eintlik niks in vergelyking met wat ek vrygespring het nie – ek kon verewig verlam wees”.
Kortom: Ek probeer myself nie meer bejammer nie, en sover moontlik optree soos die eerste helfte van my lewe wat verby is. Ander mense wat nie self pyn ervaar nie, verstaan in elk geval nie jou pyn nie en voel meestal nie werklik vir jou jammer nie, so ek kan net sowel “die beste maak van ‘n slegte saak!”.
LEEFSTYL KEUSES OM PYN TE VERLIG
(‘n Bietjie kennis oor sellulêre biologie, weefsel sterkte en die rol van suurstof)
Soos ‘n motor suurstof nodig het, het jou selle SUURSTOF nodig om dit te laat werk, gesond te wees en effektief te funksioneer (te doen wat dit veronderstel is om te doen). Deur die teenwoordigheid en vervoer van suurstof na die sel kan die selle jou gesond en pyn-vry hou. Deur middel van suurstof word die sel veerkragtiger en sy WEERSTANDSVERMOË verhoog teen daaglikse druk en spanning wat ons liggame laat oppak. Met suurstof verhoog die sel se WEEFSEL STERKTE boonop.
So kan jy bloed en SUURSTOF VLOEI dwarsdeur jou liggaam (insluitende jou GEWRIGTE, BENE, SPIERE, ORGANE en BINDWEEFSELS) vermeerder deur die volgende leefstyl keuses te maak (wat jy KAN beheer)
- Verhoog jou fiksheid
- Verbeter jou dieet
- Bevorder rustige slaap
- Beheer spanning
- Vermy rook
- Verwyder opgeboude toksiene en metaboliese afvalstowwe vanuit jou weefsels
Hoewel een van die kenmerke van NEUROPATIESE PYN styfheid is, word STYFHEID in algemene pyn ook veroorsaak deur ‘n langdurige tekort van SUURSTOF na die sel.
‘n Verlies van BUIGSAAMHEID asook STERKTE is ook ‘n algemene oorsaak van VEROUDERING, wat ons nie kan beheer nie.
MEER OOR SENUWEE PYN
Senuwee pyn word geassosieer met spesifieke sensoriese-, bewegingsspiere-, bewegingssenuwee-, ope-lyf- en blaas probleme. (As die geaffekteerde senuwee die ingewande en blaas voorsien).
Wanneer geirriteerd of vergruis, veroorsaak die senuwee ‘n snyende mes-tipe pyn. Pasiënte beskryf dit as die ergste pyn wat hulle nog ooit ervaar het, soos ‘n mes in die rug of nek, of tandpyn. Dit kan ook voel soos ‘n elektriese skok. Senuwee pyn is erg en altyd swaar, ‘wreed’ en ‘martelend’.
‘n Senuwee is soos ‘n telefoonlyn met verbindings. Pyn in die hand kan 90 cm weg voorspruit vanaf die nek. Die pyn kan in die nek begin en al die pad uitstraal af met die arm na die hand, en pyn wat voortspruit onder die skouer na die hand of lae rugpyn wat versprei onder die knie na die voet, is dikwels akomstig vanaf ‘n senuwortel en ervaar jy in die ledemaat waar die senuwee EINDIG.
Senuwee pyn word vererger deur BEWEGING – veral BUK, DRAAI en die OPTEL van iets. Pyn verbeter met RUS, veral as jy op jou rug of jou sy lê met jou bene gebuig.
Wanneer senuwees beskadig is veroorsaak dit ook ‘n tintelende sensasie soos SPELDE en NAALDE en soms ‘n BRANDENDE sensasie. Indien die senuwee heeltemaal beskadig is sal jy geen gevoel hê nie.
My voete voel soms asof ek dit oor die hitte van ‘n vuur hou, maar dit is nie onaangenaam nie en heerlik in die winter!
Die spier waarna die spesifieke senuwee hardloop word beinvloed – soos die S1 senu wat na die kuite (die spier waarmee jy kan staan op jou tone en wat belangrik is vir hardloop) en die L3 en L4 wat na die bobeen spier hardloop. As die hele bondel spinale senuwee wortels beskadig is, word die senuwees na die ingewande en blaas benadeel. (Jy het ‘n probleem met die beheer van uriene of ope-lyf funksie).
As jy enige senu pyn ervaar moet jy dit ernstig opneem want dit kan ‘n gevaar aandui wat permanent kan wees of wat kan lei na ongeskiktheid en verlamming.
MEER OOR ‘N SPINALE KOORD BESERING
Mense verstaan nie pyn nie, en alle dokters verstaan nie die senuwee sisteem nie. Wanneer ek dikwels beangs in die hospitaal gevra het ‘SÊ my…gaan ek weer LOOP?’ was die antwoord altyd…’ek weet nie’…’Mens kan nie sê nie..’
Neuropatiese pyn kom selfs by geamputeerde persone en by paraplieë (heeltemaal verlam) en tetraplieë (gedeeltelik verlam) voor, en dit veroorsaak ‘n hoë frustrasievlak omdat ander mense algemeen meen dat hulle mos nie meer pyn het in daardie liggaamsdele wat nie meer bestaan of funksioneer, of wat verlam is nie. Want dit is is ‘n pyn wat jy nie “behoort” te voel nie want daar is “niks verkeerd nie” buitens met die pyn boodskap self.
Neuropatiese pyn kom voor wanneer senuwees onakkurate pyn seine of boodskappe stuur omdat die senuwees fisies beskadig is of disfunksioneel geraak het as gevolg van siekte of ‘n besering. Verlamming of sensoriese verlies kom voor ONDER die vlak van besering.
Periferale neuropatie (wat gewoonlik die hande en voete affekteer) kan afkomstig wees van dieet tekorte, toksienes, diabetes, kanker, HIV, die gordelroos infeksie of fisiese skade aan die senuwees.
Probleme met die SENTRALE SENUWEE SISTEEM kan afkomstig wees van ondermeer veelvoudige sklerose, BEROERTES en FISIESE SKADE AAN DIE SPINALE KOORD. Daar was meestal beroerte-pasiënte saam met my in die hospitaal en sommige van hulle was gedeeltelik verlam en het dieselfde behandeling as ek ontvang.
Die spinale koord dra al die PYN, MOTORIESE en KO-ORDINASIE vesels van die liggaam. Wat die spinale koord nie sê in pyn nie, sê dit in aksies en sensasies. SENSASIE en STERKTE, saam met OPELYF en BLAAS funksie word afgeskakel as die senuwees erg geaffekteer word.
Ek voel steeds GEEN koue wanneer ek in ‘n koue swembad spring buiten vanaf my nek boontoe nie, en hoewel dit al verbeter het sukkel ek soms nog met blaas en maag beheer.
Neuropatiese pyn word vererger deur BEWEGING, vorentoe of agtertoe BUIG, en verlig deur middel van RUS.
‘n Spinale koord besering is ‘n mediese nood toestand, maar kan ook stadig oor maande of jare plaasvind. Indien jy skielik nie meer water kan voel nie, of jou bene skielik verswak en jy beheer verloor van jou vermoë om te urineer, moet jy onmiddellik na die nood eenheid gaan.
Bronne. End Neck & Back Pain (Vincent Fortanasce, MD, David Gutkind, DPT, Robert G. Watkins, III, MD); Beat your pain (Paul Jenner – health writer and author of over 30 lifestyle books)
HOOP VIR MY – OMEGAS EN KURKUMA VIR SPINALE KOORD HERSTEL
Omega-3s en Kurkuma kan dalk die vemoë om te kan loop behou na ‘n spinale koord besering.
Jul 2, 2012 Universiteit van Kalifornië Los Angeles
Laas jaar het UCLA navorsers vasgestel dat ‘n dieet verryk met die populêre OMEGA-3 VETSURE en ‘n bestanddeel in KERRIE speserye die vermoê om te loop preserveer na skade aan die spinale koord. Die bevindinge suggereer dat hierdie aanvullings-kombinasie senuselle help HERSTEL en dat dit neurologiese funksie, na gegedegenereerde skade aan die nek, behou.
Normale VEROUDERING vernou dikwels die spinale koord en plaas druk op die spinale koord en beskadigde weefsel. Terwyl OPERASIE die druk kan verlig en verdere besering kan verhoed, kan dit NIE skade aan die selle en senuwee vesels HERSTEL nie.
Daarom is ondersoek of DIEET AANVULLINGS die spinale koord kan help om homself te genees! Progressiewe siektes wat dikwels voorkom in mense met ‘n spinaal-verswakkende toestand, soos gewrigsrumatiek en osteoporose is ondersoek. Hierdie kondisies kan lei tot neurologiese simptome soos probleme met loop, nek en arm pyn, dooie gevoel of swakheid in hande en swakheid van die ledemate (die mees algemene oorsaak van spinaal-verwante stapprobleme in mense oor 55). Daar is bevind dat die WESTERSE DIEET, hoog in VERSADIGDE VETSURE en SUIKER aansienlik stap probleme veroorsaak en vermeerder. ‘n Standaard dieet met OMEGAS (DHA) en BORRIE, ‘n chemiese verbinding in die Indiese Kerrie spesery kurkuma (“turmeric”), veroorsaak aansienlike beter stapvermoë.
Hoekom hierdie voedingstowwe?
Daar is bevind dat DHA ‘n omega-3 is wat SKADE AAN SEL-MEMBRANE herstel. Kurkuma is ‘n sterk anti-oksidant wat deur vorige studies verbind is met WEEFSEL HERSTEL. Albei verminder inflamasie.
Die BREIN en spinale koord werk saam, en jare van navorsing demonstreer dat byvoegings soos DHA en kurkuma die brein POSITIEF kan beinvloed. Hulle het vermoed dat wat vir die brein werk dalk ook mag werk vir die spinale koord.
Die navorsers se bevindinge suggereer dat DIEET VERANDERINGE kan help om skade aan die spinale koord te herstel.
Dit is ‘n opwindende eerste stap na die insig van die rol wat DIEET speel in die beskerming van die liggaam teen degeneratiewe siektes.
Dankie Annien. Om dit alles weer met ons te deel. Maar net weer vir my ‘n “eye opener” waar jy alles deur is en hoe jou lewe lyk elke dag. Dink aan jou en bewonder jou deursettingsvermoë en die sterk wil om normaal te probeer aangaan. Ek bid vir ekstra krag van God vir jou elke dag. Ganadiglik hou jy aan Hom vas! Mooi dag vir jou Liefde Eza x
LikeLike
Dankie Iez dat jy tyd maak om my blog te lees! Ek waardeer dit dat jy altyd dink aan my! Lief vir jou xx
LikeLike