Ek het jou al kliphard aan die dink gesit, hoop ek, aan waar jy jou bevind op die pad na innerlike gesondheid. Ons almal het natuurlik ‘n ander wegspringplek van waar ons op die reis na beter gesondheid vertrek.
My volgende stukkie leeswerk, SON se blog wat ek gere-blog het vir julle, asook Linda Kriel se “8 dieet en oefen geheime”(Voelgoed, 17 Oktober 2014) was my bevestiging en rigtingwyser dat ons nuwe onderwerp OEFENING gaan wees! Dis mos nie verniet dat mense letterlik in TOUE voor Virgin Active staan net soos die somer sy kop uitsteek, met die hoop om binne drie maande die perfekte lyf te hê nie!
Julle weet seker teen hierdie tyd dat oefening eintlik lewensbelangrik vir my is (Na die motor ongeluk keer my lyf gou terug na ‘n ‘sukkelende ek’ wanneer ek ophou oefen, en ‘n kenmerk van neuropatiese pyn is hierdie ontsettende styfheid – amper soos ‘n spasma wat jou hele lyf laat saamtrek). Tog hou ek mos daarvan om die noodlot bietjie te tart en my skeidslyne te rek, om my liggaam te stoot tot op die randjie van ‘ineenstorting’. En dan, gelukkig, bereik ek die punt waar my liggaam so duidelik met my praat dat ek nie anders kan as luister nie!
‘n Sekere oud-valsskermspringer het as gevolg van oor en oor val met sy spronge soveel keer beserings opgedoen, dat hy mettertyd in ‘n rystoel beland het. Hy het ook op hierdie “punt” van my gekom waarvan ek praat. Hy moes IETS doen vir sy eie geestelike oorlewing – hy MOES eenvoudig begin oefen.
So begin hy toe mense nader wat hom kon help met oefen, maar dit het geblyk dat niemand kans sien om die pad saam met hom te loop nie. En hy begin toe maar self oefen – met YOGA.
Hy het sommer alleen geoefen, en oor en oor neergeslaan, omdat yoga strekke soveel balans vereis! Hy het deurgedruk… en die uiteinde? Hy kon later op sy kop staan, en van hink en pink na sleepvoet draf, en uiteindelik hardloop! ( – iets wat my nog nie beskore is nie. My voete, kan ek net beskryf as “dood” – as gevolg van my spinale koord besering is daar ‘n ernstige verkorting van die senuwees na die voete. Ek moet baie mooi loop en balanseer op albei voete om nie te val nie – is ook dikwels bang iemand stamp aan my, want glo my – die val is groot – ek het al ‘n been gebreek hier in my eie woning!)
Ek het vir ‘n tyd lank baie meer selfvertroue gekry deur pilates by die gimnasium te doen, by wonderlike instruktrises wat ook yoga daarmee gekombineer het. Ek oefen egter nie soos julle nie – ‘n paar minute voel vir my na ure se oefening, maar die uitdaging is elke keer wonderlik, en die fisiese (nie emosionele) pyn tussendeur is tog baie bevredigend! Soos altyd kry ek heelwat emosionele energie uit gimnasium oefeninge – eintlik is dit vir my LEKKER om te oefen!
Ek gaan nie uitwei oor die gesondheids voordele van yoga nie. Ek wil egter net die interissante GEESTELIKE VOORDELE van die verkeie postuur bewegings en asemhalings tegnieke van Yoga beklemtoon. (Dit geld ook vir ander oefening).
Die mens is werklik gesond as hy/sy nie net FISIES fiks is nie, maar ook EMOSIONEEL, VERSTANDELIK en GEESTELIK gebalanseerd is, met ander woorde holisties gesond.
Ons almal kry VREDE wanneer ons rustige, stil en vreedsame plekke met natuurlike skoonheid ervaar. Deur oefening (veral yoga) kan ons egter INNERLIKE VREDE vind en ‘n kort wegbreek/vakansietjie en vrede binne onsself op enige tyd van die dag beleef (Oefening en veral yoga KALMEER jou verontruste gemoed – dinge wat jou HINDER, ONTSTEL of VERWAR).
Ons sisteem is ‘n kombinasie van die GEES, SIEL en LIGGAAM. Enige kwaal of siekte in die liggaam beinvloed die siel (emosies), en enige rusteloosheid of onplesierigheid in die siel/emosies kan manifesteer in die vorm van ‘n kwaal of siekte in die liggaam.
Yoga (en ander oefening) kan baie fisiese en geestelike siektes genees, en verbeter jou fisiese en emosionele/verstandelike asook geestelike gesondheid. Dit dra ook by tot ‘n mooi vel en soepel liggaam. Dit bring jou liggaam en gees in harmonie, en die lewe is baie meer VERVULLEND, GELUKKIGER en KALMER. (Klink mooi ne!)
Wanneer jy gereeld oefen word jy ook sensitief vir wanneer en waste KOS jou liggaam benodig, en selfs net ‘n paar minute per dag, selfs in die privaatheid van jou eie huis, speel klaar met DRUK OF SPANNING en verhoog ook jou IMMUNITEIT. (Hier speel die meditasie, asemhalings tegnieke en posture van yoga veral ‘n rol)
Ons gedagtes is konstant besig om vanaf die VERLEDE na die TOEKOMS te beweeg en bly nooit in die hede nie. Yoga en sekere ander oefening bring jou gedagtes na die HEDE, en help jou om gefokus en gelukkig te bly in die NOU.
Met ‘n tevrede, gelukkige en ontspanne gees, kan jy ook op ‘n beter manier omgaan met sensitiewe sake in verhoudings.
Oefening (veral yoga) VERFERM, VERSTERK en STREK die spiere van jou liggaam, en gee jou ‘n BETER POSTUUR wanneer jy slaap, sit of staan, wat ook verdere liggaams pyn weens verkeerde postuur verminder.
Deur middel van hierdie blog en INSPIRERENDE RAAD wil ek soos in Linda Kriel se nuwe boek, Kry daai lyf, VERSKILLENDE TEMAS EN GEDAGTES aanroer sodat jy geinterisserd bly om jouself te ontwikkel en verbeter. Ek hoop om jou aan te spoor om nie langer obsessief na ’n perfekte liggaam te streef nie maar om eerder gemaklik met jou eie liggaam te wees. Ek wil jou KENNIS VERBREED wat jou sal help om GESONDER TE LEEF, en wil jou inspireer om self sekere doelwitte te behaal. Volgens Linda sal dit met die nodige kennis ook vir jou makliker wees om INGELIGTE BESLUITE te neem rakende jou voeding, fisiese aktiwiteit en algemene gesondheid.
Linda Kriel: 8 dieet en oefen geheime
Voelgoed, 17 Oktober 2014
Die geheime vir ‘n gesonde lewe.
Verveling en ’n gebrek aan selfvertroue is skynbaar die grootste redes hoekom vroue of mans nie wil oefen nie.
Eintlik bly JY egter die enigste mens wat jou kan motiveer om ’n verandering te maak. Oefening is dalk nie vir jou lekker nie, maar glo my, dit sal jou goed en gesond laat voel, meen Linda. Sy se sy raak skoon kriewelrig as daar ‘n paar dae verbygaan dat sy nie oefen nie!
Lyk vir my ons moet nou maar ‘n doelgerigte BESLUIT neem om te begin oefen, soos met ander doelstellings al die spesifieke redes neerskryf WAAROM ons wil oefen, al die VOORDELE wat ons dink dit mettertyd vir ons gaan inhou! Ons moet besluit op watter DAE en TYE ons wil oefen, dit in ‘n DAGBOEK skeduleer, en dan daarby hou. Die geheim is om geduldig te wees en vas te byt. Dit neem ’n ruk om in die OEFENPATROON te kom en dit ’n ROETINE te maak. Die beloning gaan uiteindelik groot wees!
“Dikwels is die manier waarop ons aan onsself dink die rede hoekom ons nie oefen nie. Ons is heeltyd besig om aan onsself stories te vertel oor wie ons is. Verander die vooropgestelde idees wat jy oor jouself het en maak jou moontlikhede soveel meer.”
Sy vertel: “Ek het op skool aan sport deelgeneem, maar my groot liefde het by ballet gelê. Dit was vir my verskriklik lekker om op die maat van musiek te dans. Na ’n rugbesering moes ek ophou met ballet. Ek het ’n alternatief gevind in aërobiese oefeninge. So kon ek steeds dans met musiek! Ek het ekstra geld verdien deur aërobiese oefeninge aan te bied en my rigting het van balletdanser na fiksheidskenner verander. Deur buite die kassie te dink en die storie uit myself AAN TE PAS, kon ek ’n TRAGEDIE in ’n GELEENTHEID omskep”. Hierdie is vir my baie waardevolle motivering.
Ek was vir twintig jaar skoonheid en spa terapeut. Die aand voor die ongeluk het ek en my vriendin op my selfoon ingetik wat ek die res van die jaar gaan aanpak nadat ek my onlangse werk gelos het. Een van die dinge was “gym instruktrise” (ek wou fokus op, snaaks genoeg, STREK klasse!). Maar die volgende môre was die onverwagste ongeluk en die instruktrise-droom, saam met ‘n hele paar ander, daarmee heen! (Wat was omtrent al wat oorgebly het? Om te SKRYF – wat ek natuurlik nou hard probeer doen!). As “half-gestremde” moes ek ook soortgelyke AANPASSINGS maak, ook wat my beroep betref.
Party mense moet ‘n vriendin of vriend by die gym kry wat saam met hulle oefen, of saam met iemand gaan draf. Ek verkies definitief om op my eie te oefen en myself te motiveer (om soms op te hou om almal om my te wil tevrede stel!)
‘n Mens moet ook BALANS handhaaf (want “balans is mos die geheim van die lewe”), deur altyd jou NEGATIEWE gewoontes en besluite uit te kansalleer met die POSITIEWE. Mense het altyd vir my gevra “hoekom ek so jonk lyk vir my ouderdom”. Buiten dat ek toeka se tyd al met my kop besluit het ‘ek is tien jaar jonger’, plus nooit in die son verskyn het sonder om gekamoefleer te wees met hoed, sonbril en sonskerm nie, het ek dikwels na ‘n hele nag of nagte se jolyt – hope vitamines, glase water, en gesonde kos verorber! Jy kan self besluit hoe JY balans gaan handhaaf – miskien harder oefen as jy sjokolade geëet het, of NIE sjokolade eet as jy ‘n oefensessie gemis het nie!
In Johannesburg het ek vir 2 jaar lank ‘n skoonheid salon in die gimnasium gehad. Ek het dikwels die oefen en eetpatrone van die gymnasiumlede bestudeer! Een so ‘n meisie wat dit kon bekostig om met “hotpants” in die gym rond te loop, se oefen gewoonte was as volg. Sy het net drie dae elke week geoefen (en dit nogal op Maandag, Dinsdag en Woensdag), en sou NOOIT ‘n oefensessie mis nie, tensy sy siek was, of op vakansie. Tot digby haar bevallings en kort daarna het sy getrou geoefen, tien minute op die kardiovaskulêre masjiene en dan ‘n halfuur op die liggaamsbou masjiene/met gewiggies.
Let wel: Oefening is lewensgevaarlik as jy griep of koors het. As jy egter net ’n ligte verkoue het, kan jy nog liggies oefen, maar moet onthou om genoeg water te drink. As ’n oefensessie skielik pyn veroorsaak het, kan dit dalk weens ’n ernstige besering wees of andersins net die styfheid van jou spiere.
Van LINDA KRIEL SE WENKE VIR ’N GESONDE DIEET
- Eet net totdat jy versadig is. Moenie jou ooreet nie.
- Eet baie avokado’s, olyfolie, salm, neute en jogurt.
- Bly weg van te veel alkohol.
- Skakel graankosse, stysel en verfynde koolhidrate (alles wat met meel en suiker gemaak is) uit.
- Drink ses glase water per dag. (Genoeg water is noodsaaklik as jy gewig wil verloor.)
LINDA KRIEL SE WENKE VIR ’N GESONDE GEES
- Begin elke dag met stiltetyd. Moenie die dag ingaan sonder om stil te word voor die Here nie.
- Doen as familie soms saam Bybelstudie, of bid en sing as gesin saam.
- Buiten dat God met jou praat deur sy Woord, moet jy alledaagse dingetjies met Hom bespreek, en nie jou gesprekke met Hom tot jou stiltetyd beperk nie.
- Kry miskien ‘n versameling ‘gospel’musiek. Dit maak jou rustig en gee jou vrede.